Hartelus Mark bly ‘n gunsteling langs die Vaalrivier
Die mark het oor die jare ontwikkel tot een van Parys se gewildste kuierbestemmings.
Die gewilde Hartelus Mark het Saterdag weer besoekers van naby en ver na die oewer van die Vaalrivier gelok, waar plaaslike entrepreneurs, kunstenaars en kosverkopers hul produkte in ‘n ontspanne atmosfeer ten toon gestel het.
Die mark, wat elke eerste Saterdag van die maand (met die uitsondering van Januarie) by Egweni River Lodge gehou word, het oor die jare ontwikkel tot een van Parys se gewildste kuierbestemmings. Van 09:00 tot 15:00 bied sowat 60 stalletjies ‘n verskeidenheid handgemaakte produkte, kunsvlyt, vars plaasprodukte en heerlike eetgoed.
Besoekers kon deur ‘n uiteenlopende versameling juweliersware, klere en kunswerke snuffel, terwyl ander hulle aan pannekoek, soet lekkernye, handgemaakte bier en ander plaaslike smullekker kosse verlustig het.
Reg langs die Vaalrivier, naby die Vaalrivierbrug, bied die mark ‘n rustige wegbreek uit die alledaagse gejaag. Baie besoekers het die sonnige winterdag benut om piekniekkomberse uit te pak, hul skoene uit te trek en die lewendige musiek langs die rivier te geniet.
Die Hartelus Mark weerspieël sy naam met ‘n warm, gesellige atmosfeer waar gemeenskap, ontspanning en plaaslike talent gevier word. Dit bied nie net ‘n platform vir plaaslike entrepreneurs nie, maar nooi ook inwoners en toeriste om die unieke karakter van Parys te ervaar.
Parys, wat wêreldwyd bekend is omdat dit binne die Vredefortkoepel, die oudste en grootste meteoriet-impakstruktuur op aarde, geleë is, bied die ideale agtergrond vir hierdie maandelikse mark wat steeds in gewildheid toeneem.
Kyk na die fotos hier:








