Die room van SA se boerperde en ruiters gereed vir nasionale kampioenskap in Parys
Boerperde van reg oor die land sal aan die kampioenskappe deelneem.
Nagenoeg 190 boerperde van oor die land sal die komende week van 13 tot 18 Julie by die AfriDome in Parys in aksie gesien kan word by die Toyota SA Boerperd Nasionale Kampioenskappe.
Inwoners en besoekers aan die dorp is welkom om daagliks die skouprogram gratis te kom kyk. Hekke open om 08:00.
Die kampioenskappe skop af met die dresseer-klasse Maandag 13 Julie, waar uitsonderlike ruitervernuf gesien kan word, gevolg deur die kinderruiter-klasse Dinsdag 14 Julie.
Vanaf Woensdag 15 Julie sal die halterklasse (in hand) beoordeel word, met die groot kampioenskapklasse wat ook die hoogtepunt op die skouprogram is, wat Saterdag 18 Julie tussen 14:00 en 17:30 beoordeel word.
Ses beoordelaars sal in totaal vir die duur van die skouprogram die onderskeie klasse beoordeel en sluit ook ‘n beoordelaar van Engeland in.
Nog ‘n item op die skouprogram wat skougangers gerus kan bywoon is die Ster Vul-beoordeling Vrydag 17 Julie om 18:00.
Boerperde is ‘n veelsydige Suid-Afrikaanse perderas wat bekend is vir hul uithouvermoë en goeie geaardheid. Dié perde blink uit in verskeie ruitersportdissiplines. Moet daarom nie die kampioenskappe misloop nie.



