Bek en klouseer Kommer oor aanmelding en afname in biosekuriteit
Die departement sê die inentingsveldtog gaan voort ingevolge die nasionale strategie vir die beheer van bek-en-klouseer.
Die Vrystaatse Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake sê daar is nog agt nuwe klinies bevestigde gevalle van bek-en-klouseer (BKS) verlede week in die provinsie aangemeld. Twee van die nuwe gevalle is in die Boshof Staatsveeartsenygebied. en ses in die Smithfield Staatsveeartsenygebied bevestig.
Dit bring die totale aantal bevestigde gevalle in die Vrystaat op 687 te staan.
Volgens die departement is 181 van die 687 gevalle reeds suksesvol afgehandel, nadat die betrokke plase aan al die vereistes voldoen het en kwarantyn opgehef kon word nadat die voorgeskrewe siektebeheermaatreëls toegepas is.
Bek-en-klouseer is tot dusver in 19 plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat bevestig.
Die verspreiding van bevestigde gevalle wat aangemeld was, is soos volg:
Kroonstad (Moqhaka): 119 gevalle
Heilbron (Ngwathe): 94 gevalle
Frankfort (Mafube): 74 gevalle
Bethlehem (Dihlabeng en Nketoana): 67 gevalle
Sasolburg (Metsimaholo): 64 gevalle
Ladybrand (Mantsopa en Setsoto): 46 gevalle
Boshof (Tokologo): 44 gevalle
Welkom (Matjhabeng en Nala): 43 gevalle
Warden (Phumelela): 43 gevalle
QwaQwa (Maluti-a-Phofung): 29 gevalle
Bultfontein (Tswelopele en Masilonyana): 25 gevalle
Smithfield (Mohokare en Mangaung): 16 gevalle
Bloemfontein (Mangaung Metro): 12 gevalle
Fauresmith (Kopanong en Letsemeng): 8 gevalle
Thaba Nchu (Mangaung Metro): 2 gevalle
Inentingsprogram duur voort
Die departement sê die inentingsveldtog gaan voort ingevolge die nasionale strategie vir die beheer van bek-en-klouseer. Voorkeur word gegee aan besmette plase, aangrensende plase, epidemiologies gekoppelde eiendomme en ander hoërisikogebiede wat deur veeartsenykundige risiko-ontledings geïdentifiseer is.
Aansoeke vir inenting bly oop en die departement ontvang steeds ‘n groot aantal versoeke. Weens die beperkte beskikbaarheid van entstof kan nie alle aansoeke in die eerste fases van die program gehanteer word nie, het die departement gesê.
Boere is egter aangemoedig om steeds vir inenting aansoek te doen, aangesien hierdie inligting gebruik word om toekomstige entstofvoorrade en inentingsveldtogte te beplan.
Tot dusver is 1 252 160 beeste met die Bago- en Dollvet-entstowwe ingeënt.
Departement waarsku oor versuim om siekte aan te meld
Die departement sê ook hy bly bekommerd dat sommige veeboere steeds versuim om vermoedelike gevalle van bek-en-klouseer aan te meld.
Daar is weer klem gelê op die belangrikheid van onmiddellike aanmelding van vermoedelike gevalle wat nie net ‘n wetlike verpligting is nie, maar wat ook noodsaaklik vir doeltreffende siektebeheer.
Volgens wet moet alle vermoedelike gevalle op dieselfde dag by die naaste staatsveearts of dieregesondheidstegnikus aangemeld word sodat ondersoeke, kwarantyn en beheermaatreëls onmiddellik ingestel kan word.
Biosekuriteit bly noodsaaklik
Die departement sê daar is ook kommer oor die afname in die nakoming van basiese biosekuriteitsmaatreëls op sommige plase. Swak biosekuriteit verhoog die risiko dat die siekte na naburige plase versprei en kan die pogings om die uitbreking onder beheer te bring, ernstig ondermyn.
Veeboere word versoek om:
- Enige vermoedelike geval van bek-en-klouseer onmiddellik by die naaste staatsveeartsenykantoor aan te meld.
- Besmette diere onmiddellik te isoleer en geen beweging van hoefdiere, diereprodukte, voertuie, toerusting of moontlik besmette materiaal vanaf die perseel toe te laat nie.
- Toegang tot veepersele streng te beheer en biosekuriteitsmaatreëls toe te pas, insluitend die ontsmetting van voertuie, toerusting, klere en skoene.
- Toe te sien dat enige beweging van hoefdiere vanaf gekwarantynde plase slegs met skriftelike toestemming van die staatsveearts en die vereiste dokumentasie geskied.
- Akkurate rekords van diere-identifikasie, inentings en veebewegings by te hou.
- Alle kwarantyn- en bewegingsbeperkings na te kom totdat dit amptelik deur Veterinêre Dienste opgehef word.

Die departement beklemtoon dat die suksesvolle beheer van die uitbreking afhanklik is van die samewerking van alle veeboere en rolspelers in die veebedryf en bedank georganiseerde landbou, privaat veeartse, veilings, voerkrale en ander bedryfsvennote vir hul voortgesette ondersteuning in die beskerming van die Vrystaat se veebedryf.



