AfriForum dreig met hofaansoek oor Vaalrivier-rioolstorting
AfriForum het in 2023 ook 'n kriminele klagte by die SAPD in Parys gelê weens verskeie rioolstortings deur die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit wat direk of indirek in die Vaalrivier beland het.
Die burgerregte-organisasie AfriForum sê hy gaan voort met ‘n dringende hofaansoek om die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit te dwing om die rioolprobleem op te los wat na bewering voortdurende rioolstorting in die Vaalrivier veroorsaak weens stukkende rioolpompe by pompstasies 8 en 10 in Drie Riviere, Vereeniging.
Die organisasie het Woensdag bevestig dat geen reaksie tot dusver van Emfuleni op prokureurskrywes ontvang is nie.
In dié skrywes is Emfuleni tot 24 Julie kans gegee om ‘n noodaksieplan voor te lê waarin uiteengesit word wat die munisipaliteit beoog om te doen om die storting te stop.
Die rioolbesoedeling kom te midde van verskeie ander regsaksies teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit oor rioolbesoedeling elders in die munisipaliteit.
Drie van dié sake is deur AfriForum geïnisieer en sal weer op 1 September voor die hof dien.
AfriForum sê die organisasie wil sien dat individuele aanspreeklikheid ernstig oorweeg word sodat diegene wat verantwoordelik is vir volgehoue administratiewe versuim, ook persoonlik aanspreeklik gehou word waar die reg daarvoor voorsiening maak.
Die organisasie sê ook die omvang van die omgewingskade is katastrofies.

“Rou riool vloei reeds vir ‘n geruime tyd onbehandeld in die Vaalrivier in. Hierdie besoedeling vernietig ‘n strategiese waterbron waarvan miljoene mense afhanklik is en stel inwoners aan ernstige gesondheidsrisiko’s bloot,” sê AfriForum.
“Dit is nie bloot ‘n plaaslike diensleweringsprobleem nie; dit is ‘n nasionale omgewingskrisis.”
AfriForum het in 2023 ook ‘n kriminele klagte by die SAPD in Parys gelê weens verskeie rioolstortings deur die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit wat direk of indirek in die Vaalrivier beland het.
Die klagte is deur die Groen Skerpioene ondersoek en sal na verwagting in Oktober voor die hof kom, het Alta Pretorius, AfriForum se streekkoördineerder vir die Mooirivier-streek, gesê.



