Vredefort-pad: ‘Mense kan mos nie so ry nie’
Van die begin van die konstruksie was daar probleme met verkeer wat op 'n alternatiewe roete via die Schoemansdrift-pad na Vredefort herlei is.
Maande nadat ‘n leerling kontrakteur deur die Paaie Departement aangestel is om slaggate op die R59 tussen Parys en Vredefort te herstel, is dié herstelwerk steeds nie voltooi nie. Dele van die teervlak is in ‘n haglike toestand is.
Hillary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer het vroeër bevestig dat die departement ‘n leerling kontrakteur voor die Paasnaweek aangestel het om instandhouding op die R59 tussen Vredefort en Parys te doen.
Groot gedeeltes teer is oopgemaak met die plan om dit te herstel, maar was daar nie genoeg materiaal beskikbaar om die gedeeltes weer te teer nie, het Mophethe gesê. Sy het toe ook gesê dat die departement die kontrakteur bystaan om padveiligheid op die roete te verseker.
Van die begin van die konstruksie was daar probleme met verkeer wat op ‘n alternatiewe roete via die Schoemansdrift-pad na Vredefort herlei is. Die alternatiewe roete is nie ontwerp om die swaar verkeersvolume van die R59 te kon dra nie. Gevolglik het ook dié pad groot skade gekry weens water onder die pad waar swaar verkeer ‘n sloot getrap het, en slaggate wat vererger het. Die gebrek aan behoorlike padtekens op die alternatiewe roete het boonop veroorsaak dat swaar voertuie verkeerde afdraai paaie gevat het.
Motoriste sê die werk wat aan die Vredefort-pad gedoen is laat veel te wense oor en getuig van swak vakmanskap. Wessie Wessels, ‘n grondeienaar langs die R59 tussen Vredefort en Parys, sê hy eis om te dink dat motoriste dié pad moet gebruik.
Volgens Wessels is die los gruis op dele van die pad lewensgevaarlik. Dit is ook deur ander motoriste beaam wat daagliks op die pad tussen Vredefort en Parys pendel.
‘n Kontrakteur is wel intussen vir ‘n drie maande periode aangestel om slaggate op die R59 tussen Parys en die N1 te herstel. ‘n Vorige instandhoudingskontrak vir dié gedeelte van die R59, wat vereis het dat studente van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) praktiese opleiding moes ontvang eerder as dat moderne konstruksiemetodes toegepas word, het klaaglik misluk. Herstelwerk was dikwels van swak gehalte, en die gebrekkige vakmanskap het bygedra tot gevaarlike padtoestande. Hoewel ‘n professionele kontrakteur later die aanvanklike span vervang het op die R59 tussen die N1 en Parys, was die jaarlikse instandhoudingsbegroting teen daardie tyd uitgeput.
Sedert Maart kon slegs noodherstelwerk uitgevoer word. Met die spoorwegnetwerk wat grotendeels in onbruik verval het, het padvervoer onontbeerlik vir die plaaslike ekonomie geword, en vermy swaarvoertuie tolgelde deur via die R59 deur Parys en Vredefort te ry.
Gazette het navraag by die departement gedoen oor die herstel van die R59 tussen Parys en Vredefort, en sal kommentaar bygewerk word sodra dit ontvang word.
Jabu Mbalula, VS LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, het vroeër in sy begrotingsrede ‘n padonderhoudsplan wat op R1,4 miljard geraam word, aangekondig vir die 2026/27 boekjaar wat onderhoud aan die Kroonstad/Steynsrus-pad, Senekal en Rosendal-pad, Tweespruit/Ezelsior-pad, Koppies/Sasolburgpad en R711 tussen Fouriesburg en Clarens insluit.



