Zimbabwiërs gevonnis wat met koper en transformator betrap word
Inligting wat ontvang is, het die polisie op die spoor van die verdagtes gesit.
Sewe Zimbabwiërs is elk tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan die diefstal en beskadiging van Eskom-infrastruktuur.
Tatenda Mutanda (29), Simon Sithole (36), Phillip Chatenhedza (35), Prosper Chiwanda (32), Tiwashe Miziri (40), Themba Dube (39) en Kamokeni Chikuse (43) is Donderdag 20 Augustus in die Bloemfonteinse Landdroshof gevonnis.
Mutanda, Chatenhedza, Chiwanda, Dube en Chikuse is verder tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis as onwettige immigrante.
Volgens luitenant-kolonel Zweli Mohobeleli is die sewe op 20 November 2022 deur lede van die Bloemfonteinse Blitspatrollie op die N6 gearresteer nadat die polisie inligting gekry het van ‘n groep verdagtes wat van die Oos-Kaap na Bloemfontein onderweg was.
Die verdagtes het in twee voertuie – ’n vragmotor en ’n Volkswagen Polo, gereis.
Tydens ’n deursoeking van die vragmotor is koper ter waarde van meer as R100 000 gevind. ’n Beskadigde kragtransformator, met skade wat op sowat R2,5 miljoen beraam word, is ook teruggevind.
Majoor-generaal Mokgadi Bokaba, Vrystaatse hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), het rolspelers wat by die saak betrokke was, geloof vir hul vinnige optrede nadat die inligting ontvang is.



