Local newsNews

Belastingkwessies: Dit is wat jy moet weet

Een van die grootste foute wat belastingbetalers maak is om ’n dispuut bloot as ’n nakomingskwessie te hanteer.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het volgens belastingkenners ’n veel sterker teenstander in belastinggeskille geword en gebruik belastingwetgewing met groter doelgerigtheid en presisie.

Sodra SAID ’n aanslag uitreik, is die belastingowerheid toenemend bereid om sy standpunt te verdedig en die saak verder te voer.

Dit beteken belastingbetalers moet meer akkuraat en strategies optree wanneer hulle ’n aanslag betwis, waarsku Nico Theron, stigter van Unicus Tax Specialists.

“SAID is baie meer geneig om sake tot litigasie te voer om te verseker dat sy aanslae gehandhaaf word.”

Moderne belastinggeskille

Moderne belastinggeskille gaan nie meer bloot daaroor of ’n belastingbetaler reg of verkeerd is nie. Dit weerspieël toenemend die Inkomstediens se groter doeltreffendheid, die druk om inkomste in te vorder en al hoe meer komplekse en wetlike interpretasies van belastingwetgewing.

Volgens Theron is een van die grootste foute wat belastingbetalers maak om ’n dispuut bloot as ’n nakomingskwessie te hanteer. Nakoming en belastinggeskille is egter van meet af aan verskillende en afsonderlike regsprosesse.

Volgens SAID se jaarverslag vir 2024/2025 het die inkomstediens ’n sukseskoers van 83% behaal in belastinggeskille wat tot litigasie gelei het.

Vir belastingbetalers beklemtoon dié syfer hoe belangrik dit is om ’n dispuut van die begin af korrek en strategies te hanteer, eerder as om eers op te tree wanneer die saak reeds in die hof beland het.

“Dit raak al hoe meer onvanpas dat professionele persone wat vir daaglikse belastingnakoming verantwoordelik is, ook geskille hanteer, aangesien geskille al hoe meer kompleks, regsnuanseerd en strategies word.”

Sodra ’n probleem ontstaan, moet die belastingbetaler die besonderhede daarvan onmiddellik aanspreek voordat dit ontwikkel in ’n situasie waar daar probeer word om ’n saak te “red wat nie meer redbaar is nie”.

Die interpretasie van wetgewing kan bedrieglik ingewikkeld wees vir iemand sonder tegniese, regs- en dispuutoplossingskennis.

Tree vinnig op

Sodra ’n belastingskuld of -aanslag uitgereik word, beïnvloed dit die belastingbetaler se nakomingstatus direk en moet dit onmiddellik aandag kry.

Belastingrisiko’s kan ook breër gevolge vir ’n onderneming en sy bestuur hê – dit is dus nie bloot ’n finansiële of nakomingskwessie nie.

Daarom is dit belangrik om ’n oudit en daaropvolgende aanslag waarmee jy nie saamstem nie, van die begin af as ’n dispuut te hanteer, selfs al is ’n beswaar nog nie ingedien nie.

Korrespondensie van SAID moet ernstig opgeneem word. Die Inkomstediens kan foute maak, maar om niks te doen of té lank te wag om te reageer, kan ’n belastingbetaler se posisie verswak.

Theron raai belastingbetalers wat SAID se standpunt wil betwis aan om hul verdediging noukeurig te formuleer. Belastingbetalers fokus dikwels slegs op die onmiddellike probleem sonder om die breër gevolge van die dispuut in ag te neem.

Bou ’n sterk verdediging

Volgens Theron skep ’n breër verdediging ruimte vir ’n belastingspesialis om die saak vanuit verskillende hoeke te benader.

Dit is veral belangrik om noukeurig aandag te gee aan die Inkomstediens se brief met die bevindinge van ’n oudit.

’n Noukeurige ontleding van die brief kan help om ’n dispuut te voorkom. Dit verg dissipline en kennis van belastingwetgewing, die beswaar- en dispuutproses asook regspraak om die kwessies wat SAID in sy ouditbevindinge uitlig, behoorlik aan te spreek.

Die reaksie moet strategies en volledig wees, al is die proses frustrerend, sê Theron.

“Let op die vrae en verstaan wat SAID met ’n vraag probeer bereik.”

Volgens Theron vra die Inkomstediens selde ’n vraag sonder dat daar reeds ’n bepaalde antwoord of doelwit agter die vraag is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button