Bespaar so brandstofverbruik en -koste
Om jou voertuig se diens uit te stel, kan jou duur te staan kom.
Dit is alles behalwe heerlike lente as jy by die brandstofpomp stop. Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne het aangekondig dat petrolpryse vanaf 2 September met R1,34 per liter styg, terwyl diesel met tot R3,15 per liter duurder word.
Hoewel motoriste min beheer het oor internasionale oliepryse en ander wêreldwye faktore wat brandstofpryse beïnvloed, kan jy wel seker maak dat jou voertuig se brandstofverbruik so doeltreffend moontlik is
Volgens Dewald Ranft, nasionale voorsitter van die Motor Industry Workshop Association (MIWA), is die jongste prysstygings ’n goeie herinnering daaraan dat behoorlike voertuigonderhoud en verantwoordelike bestuursgewoontes ’n wesenlike verskil aan ’n voertuig se bedryfskoste kan maak.
“Elke kilometer tel wanneer brandstofpryse styg. Motoriste kan nie beheer wat by die brandstofpomp gebeur nie, maar hulle kan seker maak hul voertuig werk so doeltreffend moontlik en dat brandstof nie onnodig vermors word nie,” sê Ranft.
Pasop vir kitsoplossings
Ranft waarsku motoriste ook om nie maklik te val vir sogenaamde brandstofbesparende toestelle wat belowe om brandstofverbruik dramaties te verminder nie.
“Daar is geen tower-toestel wat skielik ’n voertuig se brandstofverbruik kan verander nie.
“Motoriste moet baie versigtig wees vir produkte wat aansienlike brandstofbesparings belowe sonder geloofwaardige, onafhanklike bewyse om dié aansprake te staaf. In baie gevalle is die beter belegging bloot om seker te maak die voertuig word behoorlik onderhou.”
Goeie onderhoud kan brandstof bespaar
’n Voertuig wat nie behoorlik onderhou word nie, kan meer brandstof gebruik as wat nodig is. Ranft sê motoriste moet let op enige skielike verandering in brandstofverbruik en die voertuig laat nagaan indien dit skielik meer brandstof as gewoonlik begin gebruik.
“Gereelde diensbeurte gaan nie net daaroor om enjin- en ander voertuigprobleme te voorkom nie. Dit gaan ook daaroor om die voertuig so doeltreffend moontlik te laat funksioneer.
“Probleme met die enjinbestuurstelsel, brandstofstelsel, bande, remme of ander komponente kan die voertuig se werkverrigting en bedryfskoste beïnvloed.”

Só kan motoriste brandstof bespaar
Ranft beveel aan dat motoriste:
- Banddruk gereeld nagaan. Bande wat te pap of te hard is, kan brandstofverbruik, hantering en bandslytasie beïnvloed. Bande moet volgens die voertuigvervaardiger se spesifikasies opgepomp word.
- Wielsporing korrek laat stel. Verkeerde wielsporing kan rolweerstand verhoog en onnodige bandslytasie veroorsaak.
- By die voertuig se diensskedule hou. Gereelde diensbeurte help om probleme vroeg op te spoor en verseker dat die enjin en ander stelsels behoorlik funksioneer.
- Waarskuwingsligte en veranderinge in voertuiggedrag nie te ignoreer nie. Ongewone geluide, reuke, vibrasies of ’n merkbare verandering in brandstofverbruik moet ondersoek word.
- Onnodige gewig vermy. Swaar toerusting of items wat nie nodig is nie, verhoog die las wat die enjin moet vervoer en kan brandstofverbruik beïnvloed.
- Lugversorging verstandig gebruik. Oormatige gebruik van lugversorging kan brandstofverbruik verhoog, hoewel gemak, sigbaarheid en veilige bestuur altyd voorkeur moet geniet.
- Onnodige luierloop vermy. ’n Enjin wat loop terwyl die voertuig stilstaan, gebruik brandstof sonder dat enige afstand afgelê word.
- Glad versnel. Skielike versnelling en gereelde veranderinge in spoed kan brandstofverbruik verhoog, veral in swaar verkeer.
- Reise vooruit beplan. Deur ritte te kombineer en onnodige reise te vermy, kan brandstofverbruik én voertuigslytasie verminder word.
Moenie op onderhoud probeer bespaar nie
Ranft waarsku dat motoriste ook nie moet probeer om brandstof te bespaar deur noodsaaklike voertuigonderhoud uit te stel nie.
“Om geld te probeer spaar deur ’n diens uit te stel of ’n probleem te ignoreer, kan uiteindelik motoriste baie duur te staan kom.
“Indien ’n voertuig nie soos gewoonlik presteer nie, is die beste benadering om dit behoorlik te laat diagnoseer eerder as om op ’n vinnige oplossing of ’n onbewese brandstofbesparingsproduk staat te maak.”



