Sakelui in Parys se nywerheidsgebied is raadop met die voortdurende bloederige rioolwater wat byna elke week by verstopte mangate uit stroom en weer vanoggend in ‘n bloederige stroom in Brownstraat by Tau Insleepdienste, Prinskaste en Kalgro Steel geloop het.
Vir mense wat hier moet sake bedryf is die stank ondraaglik, om nie te praat van die onhigiëniese toestand en omgewingsgevaar wat hierdie storting inhou nie.
Volgens Eleanor Vos van Prinskaste, gebeur die storting baie gereeld en is dit al by herhaling gerapporteer.
Gazette het navraag by die munisipaliteit gedoen en het die munisipale bestuurder gesê hulle is bewus van die storting en gee aandag daaraan. Hy het ook aangedui dat die oorsaak van die storting nie die munisipaliteit se skuld is nie, en dat dit aangespreek sal word met waarskuwingsskrywes om die storting stop te sit.






