Sinnelose skaapslagting: Herbesin oor landelike veiligheid, sê DA
Die DA meen die afstand van misdaadtonele en ’n gebrek aan ondersteuning, waaronder voertuie en personeel veroorsaak dat die polisie se veediefstaleenhede nie doeltreffend kan funksioneer nie.
Boere word gedwing om die prys van toenemende landelike misdaad te betaal – nie net deur groter verliese weens misdaad nie, maar ook deur self verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem en bykomende veiligheidsmaatreëls op hul eiendomme te installeer, soos kameras en alarmstelsels, asook private sekuriteit en plaaspatrollies. So het die DA vandeesweek gereageer na die diefstal van 45 skape, en sinnelose slagting van 20 lammers in die Steynsrus-distrik.
Volgens dr. Roy Jankielsohn, die DA se verteenwoordiger vir Landbou in die Vrystaatse Wetgewer beklemtoon die voorval die ernstige bedreiging wat landelike gemeenskappe, veral boere en plaaswerkers in die Vrystaat, in die gesig staar.
Die DA meen die afstand van misdaadtonele en ’n gebrek aan ondersteuning, waaronder voertuie en personeel veroorsaak dat die polisie se veediefstaleenhede nie doeltreffend kan funksioneer nie. Plaaslike polisiestasies het ook nie voldoende personeel en voertuie nie, en is gevolglik nie in staat om betyds op misdaadverslae te reageer of die nodige sigbare polisiëringspatrollies uit te voer nie, sê die DA verder.
Die DA glo polisiëringsfunksies moet gedesentralliseer word, en dat tegnologie soos hommeltuie en kameras, polisie-eenhede kan ondersteun.
Steynsrus veediefstal – polisie soek inligting
Die polisie het intussen gevra dat mense wat inligting het oor die skaapdiefstal in die Steynsrus-distrik, na vore sal kom.
Altesaam 45 skape – bestaande uit 16 SA Meat Merino-ooie en 29 SA Meat Merino-lammers met ‘n geraamde waarde van sowat R151 000 is op 29 Augustus op die plaas Rietvlei gesteel.
Van die skape is later langs die grondpad tussen Steynsrus en Arlington gevind.. Sommige van die diere se kele is gesny, en op verskillende plekke langs die pad agtergelaat.
Mense wat inligting het wat die polisie kan help met hul ondersoek, kan adjudant-offisier Henry Greeff van die Heilbron Veediefstaleenheid skakel by 082 627 7577.
Inligting kan ook anoniem op die polisie se MySAPS-toepassing deurgegee word of skakel die Stop Misdaadnommer by 08600 10111.



