Onwettige storting neem toe ná sluiting van vullisterrein
Volgens die Ngwathe-munisipaliteit is ’n konsultant in Mei aangestel om ’n nuwe munisipale stortingsterrein vir Vredefort te identifiseer.
Sowat ‘n week ná die permanente sluiting van die munisipale stortingsterrein net buite Vredefort langs die S80 weens die moontlikheid van grondwaterbesoedeling, is kennisgewingborde wat teen die heining om die terrein aangebring is om aan te dui dat die terrein nie meer gebruik word nie, kwaadwillig verwyder.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se direkteur vir gemeenskapsdienste, Mojabeng Makibinyane, het na aanleiding hiervan ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om hul samewerking te gee en nie vullis op onwettige terreine te stort nie.

Toenemende onwettige storting van vullis langs die S80 en R59 word reeds waargeneem.

Makibinyane het benadruk dat vullisverwydering steeds daagliks deur die munisipaliteit in Vredefort gedoen word en dat mense die munisipaliteit by 081 033 9622 kan skakel vir noodvullisverwydering.
‘n Gebied teen die heining, net verby die bestaande stortingsterrein, is ook deur die munisipaliteit uitgewys vir die storting van slegs tuinvullis. Makibinyane het inwoners daaraan herinner dat geen huishoudelike vullis hier gestort mag word nie.

Die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Kleinsake-ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake (Destea) het vroeër geweier om die stortingsterrein se lisensie te hernu weens die moontlikheid
van grondwaterbesoedeling. Die lisensie vir die terrein het in 2017 verval.
Volgens die Ngwathe-munisipaliteit is ’n konsultant in Mei aangestel om ’n nuwe munisipale stortingsterrein vir Vredefort te identifiseer.
Die Gazette het in 2025 alarm gemaak oor Ngwathe se lisensie vir die Vredefortstortingsterrein ná vrae gevra is deur die Gazette en die bestuur van die Koepel Boerevereniging.
Korrespondensie wat van Destea bekom is, het daarna bevestig dat Ngwathe se aansoek om die stortingsterrein uit te brei, in 2017 afgekeur is, en dat die departement daarna geen nuwe aansoek van die munisipaliteit ontvang het nadat die lisensiehernuwing geweier is nie.
Die moontlikheid van grondwaterbesoedeling is ook in die departement se korrespondensie van 2017 uitgelig.
Die stortingsterrein langs die S80 was voorheen ’n oop gruisgroef wat mense oor die jare geleidelik as stortingsterrein begin gebruik het.
Die terrein is langs een van die toegangsroetes na die Vredefort Koepelwêrelderfenisterrein geleë, hoewel dit buite die buffer- en kerngebied van die Vredefort Koepel val.
Nadat vrae oor die lisensie geopper is, het Ngwathe aanvanklik bevestig dat hy lisensies vir al sy stortingsterreine het, met die uitsondering van Parys en Koppies, waar die munisipaliteit permitte
het.
Nadat die lisensieprobleem egter aan die lig gekom het, het die munisipaliteit in Junie 2025 dringende gesprekke met Destea begin.
Dit het daartoe gelei dat die terrein omhein en skoongemaak is, en dat veiligheidsmaatreëls ingestel is om aan Destea se veiligheidsvereistes te voldoen, asook aan die vereistes van die Ouditeur-Generaal se verslag, waarin aangedui is dat die munisipaliteit sy stortingsterreine behoorlik moet onderhou.
Omgewingswetgewing
Die Nasionale Omgewingsbestuurswet (NEMA), Wet 107 van 1998, plaas ’n wetlike plig op enige persoon wat besoedeling of agteruitgang van die omgewing veroorsaak het of kan veroorsaak om redelike maatreëls te tref om sodanige besoedeling of agteruitgang te voorkom, te beperk en reg te stel.
Die Nasionale Omgewingsbestuur: Afvalwet (NEMWA) bepaal verder dat alle redelike maatreëls ingestel moet word om te verseker dat afvalstortingsterreine op ’n omgewingsverantwoordelike wyse
bestuur word. Indien die munisipaliteit nie aan Destea se opdrag om die Vredefortstortingsterrein te sluit en sodoende grondwaterbesoedeling te voorkom, voldoen het nie, kon verantwoordelike munisipale amptenare ’n minimumboete van R5m of vyf jaar gevangenisstraf in die
gesig gestaar het.
Die erns van die omgewingsimpak bepaal die straf wat opgelê word. In ernstige gevalle kan ’n boete van tot R10m of 10 jaar gevangenisstraf opgelê word.



