Van Parys na wêreld onderwaterhokkie-finaal
Die relatief jong Proteaspan het by die kampioenskappe geskiedenis gemaak toe hulle die eerste keer die Wêreldkampioenskap finaal gehaal he
Die 20-jarige Ewan Stoltz van Parys was deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan vanjaar se o24-onderwaterhokkie Wêreldkampioenskappe in Gebze, Turkye, deelgeneem het.
Die relatief jong Proteaspan het by die kampioenskappe geskiedenis gemaak toe hulle die eerste keer die Wêreldkampioenskap finaal gehaal het nadat hulle Australië, wat die gunsteling was, in die halfeindstryd verslaan het met ‘n telling van 3-1.

Die Suid-Afrikaners het daarna in ‘n naelbyt eindstryd teen Nieu-Seeland te staan gekom en uiteindelik as naaswenners met ‘n silwermedalje gespog. Die eindtelling was 2-1.
Ewan wat al ongeveer sewe jaar onderwaterhokkie speel, het vier doele vir sy span by die kampioenskap aangeteken.

Sy prestasie was die hoogtepunt van jare se harde werk en toewyding. Ewan se eerste internasionale deelname vir Suid-Afrika was in 2024 toe hy deel was van die Suid-Afrikaanse o19 onderwaterhokkie-span.



