Local newsNews

Vanderbijlpark-boer kry lewenslange vonnis vir moord

Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom en gesê dit moet ’n sterk boodskap uitstuur dat veediefstal en geweldsmisdade teen lede van die landbougemeenskap nie geduld sal word nie.

Die 44-jarige Fredrick Pieter Jacobus Botha van Vanderbijlpark is lewenslange gevangenisstraf in die Pretoriase Hooggeregshof opgelê vir die moord op ‘n mede-boer Christiaan van Tonder. Hierbenewens het Botha ook 10 jaar direkte gevangenisstraf gekry vir veediefstal, sewe jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, en drie jaar vir die besit van ammunisie. Die hof het gelas dat dié vonnisse gelyktydig met die lewenslange vonnis uitgedien word.

Van Tonder het op 29 November 2021, 31 beeste aan Botha verkoop. Nadat Botha die beeste in besit geneem het, het hy Van Tonder versoek om hom in Van Tonder se voertuig na ’n afgeleë gebied naby die Theoville-plotte by Barrage te vergesel. Volgens Botha was dit om die betaling vir die vee af te handel.

Met hul aankoms by die afgeleë plek het Botha Van Tonder, wat in sy bakkie gesit het, geskiet.

Lede van die Barrage-buurtwag het later dieselfde dag die voertuig met Van Tonder se liggaam daarin ontdek en die polisie ontbied. Ná ’n uitgebreide ondersoek is Botha op 29 Augustus 2023 in hegtenis geneem.

Botha het tydens die verhoor onskuldig gepleit op al die aanklagte en enige betrokkenheid by die misdade ontken. Die staatsaanklaer, advokaat Jeniffer Cronje, het egter oortuigende getuienis aan die hof voorgehou wat sy skuld bo redelike twyfel bewys het, het Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag gesê.

Tydens vonnisoplegging het Botha se regsverteenwoordiger die hof versoek om van die voorgeskrewe minimum vonnis af te wyk. Daar is aangevoer dat vier permanente werknemers van hom afhanklik is en dat hy finansieel vir sy vrou, kinders, skoonma en pa voorsien.

Advokaat Cronje het die versoek teengestaan en aangevoer dat Botha geen berou oor sy optrede getoon het nie en dat die moord noukeurig beplan is.

Die staat het aangevoer dat is Van Tonder na ’n afgeleë grondpad gelok, waar hy om finansiële gewin vermoor is. Cronje het verder beklemtoon dat Van Tonder ’n jong en belowende boer was wie se lewe deur ’n sinnelose daad, gemotiveer deur hebsug, beëindig is.

Van Tonder se ma ly steeds aan ernstige sielkundige trauma weens die verlies van haar seun.

Die hof het met die staat se vertoë saamgestem en bevind dat Botha geen berou oor sy optrede getoon het nie. Die hof het ook bevind dat die moord ernstige en langdurige trauma vir Van Tonder se familie veroorsaak het.

Volgens die hof is moord een van die ernstigste misdade wat gepleeg kan word, en dat die samelewing streng vonnisse vereis om gewelddadige misdaad af te skrik.

Veediefstal, asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, bly volgens die hof ernstige en wydverspreide misdade in Suid-Afrika.

Die hof het gevolglik bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat ’n ligter vonnis regverdig nie, en Botha tot die voorgeskrewe lewenslange gevangenisstraf gevonnis.


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button