Local newsNews

Aksie geneem ná chaos met onwettige vullisstorting

Die Vredefort stortingsterrein is permanent gesluit en geen vullis mag meer hier gestort word nie.

Vredefort-inwoners sal voortaan nie meer tuinvullis op die terrein langs die bestaande munisipale stortingsterrein mag stort wat deur die munisipaliteit vir tuinvullissstorting uitgewys is nie.

Dit volg ná choas ontstaan het met die permanente sluiting van die Vredefort-stortingsterrein toe mense begin het om huishoudelike vullis reg langs die omheinde terrein te stort. Kennisgewingsborde wat aangedui het dat die terrein permanent gesluit is, is boonop kwaadwillig verwyder, kort nadat dit deur die munisipaliteit by die terrein aangebring is.


Die Vredefort Koepel Grondeienaars-vereniging het Maandag ‘n skrywe aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin gesê is dat regsstappe oorweeg sal word indien daar nie binne 14 dae aan die vereniging se eise oor die onwettige storting voldoen word nie.


Die vereniging, wat grondeienaars en boere binne en aangrensend tot die Vredefort Koepel verteenwoordig, sê die munisipale stortingsterrein is by een van die hoofingange tot die Vredefort Koepel geleë, en hou die onwettige storting wat na die sluiting van die stortingsterrein gebeur het, nie net verband met plaaslike afvalbestuur nie, maar kan ook die voortgesette proses rondom die beskerming en proklamering van die Vredefort Koepel as ‘n wêrelderfenislandskap benadeel.


Volgens die brief is ‘n openbare vergadering op 19 Augustus gehou oor die beoogde sluiting van die Vredefort-stortingsterrein omdat dit ‘n onwettige en ongeregistreerde terrein is wat nie aan toepaslike afvalbestuurswetgewing voldoen nie. Die vereniging sê daar is onderneem om tydelike maatreëls vir inwoners en boere in plek te stel totdat ‘n alternatiewe, wettig voldoenende terrein geïdentifiseer is.


Die vereniging se voorsitter, Adolf Greeff wys daarop dat plastiekafval weens die onwettige storting deur die wind oor die naburige plaas van Kallie de Allebout versprei, wat ‘n risiko vir vee inhou. Daar word aangevoer dat die situasie strydig is met verskeie wetlike verpligtinge rakende afvalbestuur, omgewingsbeskerming, munisipale dienste en erfenisbeskerming. Daar is onder meer ge-eis dat die munisipaliteit binne 14 dae die verspreide afval sal opruim en die gebied beveilig.


Die munisipaliteit het gevolglik Dinsdag die gebied skoongemaak en toegemaak. Nuwe kennisgewings sou ook weer by die terrein opgesit word het Ngwathe se direkteur van gemeenskapsdienste, Mojabeng Makibinyane, gesê.

Van bande tot leë aartappelsakke is die afgelope weke op die terrein langs die Vredefort munisipale stortingsterrein onwettig gestort. Foto: Verskaf
Van bande tot leë aartappelsakke is die afgelope weke op die terrein langs die Vredefort munisipale stortingsterrein onwettig gestort. Foto: Verskaf
Die munisipaliteit het vandeesweek die terrein waar onwettig gestort is skoongeskraap en toegemaak. Foto: Verskaf
Die munisipaliteit het vandeesweek die terrein waar onwettig gestort is skoongeskraap en toegemaak. Foto: Verskaf


Sy het aangedui dat ‘n oorlaaistasie slegs vir tuinvullis voortaan daagliks tussen 07:00 en 17:00 beskiksbaar sal wees by die Vredefort munisipale magasynstore in Waterstraat. Slegs tuinvullis kan hier afgelaai word. Vullisverwydering in die dorp word steeds soos gebruiklik gedoen sê Makibinyane.

Vir nood vullisverwydering skakel 081 033 9620.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button