Local newsNews

Meer produksiegeleenthede vir Bek-en-klou entstof verwelkom

Die produksie van entstof sal steeds binne ’n streng beheerde omgewing plaasvind en deur toepaslik geakkrediteerde en gemagtigde instansies behartig moet word.  

Kwalifiserende plaaslike en internasionale instansies sal nou onder bepaalde voorwaardes  met die Landbounavorsingsraad (LNR) kan saamwerk om bek-en-klouseer-entstof op groter skaal te vervaardig. Dié aankondiging deur Landbou minister Willie Aucamp, is deur TLU SA verwelkom\Die voorwaardelike lisensiëringsooreenkomste sal die LNR se huidige produksiebeperking help oorkom om groter hoeveelhede entstof beskikbaar te stel.   

TLU SA sê hy beskou die besluit as ’n belangrike stap vorentoe in die bekamping van bek-en-klouseer, en in die beskerming van Suid-Afrika se veebedryf. 

Plaaslike of internasionale instansies sal imet die LNR ’n toepaslike lisensiëringsooreenkoms moet sluit en steeds aan die voorgeskrewe wetenskaplike, regulatoriese, vervaardigings- en gehaltevereistes moet voldoen.   Die produksie van die entstof sal daarom steeds binne ’n streng beheerde omgewing plaasvind en deur toepaslik geakkrediteerde en gemagtigde instansies behartig moet word.  

Volgens TLU SA bevestig veeartse en akademici wat met BKS werk dat die LNR-entstof tans besonder geskik is vir die virusstamme wat in Suid-Afrika voorkom.   “Die inligting wat ons van veeartse en akademici ontvang, dui daarop dat hierdie tans waarskynlik die geskikste entstof is om die Suid-Afrikaanse stamme aan te spreek en die nodige immuniteit in kuddes te help opbou,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Die kenmerkended letsels van Bek-en-klouseer. Argieffoto
Die kenmerkende letsels van Bek-en-klouseer. Argieffoto

’n Verdere voordeel is dat die LNR-entstof na verwagting langer immuniteit kan bied as sommige van die entstowwe wat tans ingevoer word. Volgens TLU SA kan die LNR-entstof immuniteit van tot ’n jaar bied, terwyl sekere ingevoerde entstowwe immuniteit vir ongeveer drie tot ses maande bied.  

“Langer immuniteit kan ’n groot voordeel vir die veebedryf wees. Dit kan produsente help om kuddes meer doeltreffend te beskerm en kan ook die praktiese en finansiële las van meer gereelde inenting verminder,” sê Van Zyl.  

TLU SA meen dat groter deelname deur bevoegde vervaardigers moontlik ook tot meer mededinging, verbeterde beskikbaarheid en potensieel laer koste kan lei. Die uiteindelike prys van die entstof sal egter afhang van onder meer die lisensievoorwaardes, regulatoriese vereistes, vervaardigingskoste en die kommersiële haalbaarheid van produksie.  

Die LNR sal terselfdertyd voortgaan om sy eie produksievermoë uit te brei.

Enige inkomste wat uit lisensiëringsooreenkomste verkry word, sal volgens die minister geoormerk word om die LNR se interne BKS-entstofvervaardigingskapasiteit verder op te bou.  

TLU SA verwelkom ook die besluit om verteenwoordigende virus-isolate wat tans in Suid-Afrika sirkuleer, aan die Pirbright Institute in die Verenigde Koninkryk voor te lê vir verdere entstofpassing. Die doel is om wetenskaplik te bepaal hoe geskik beskikbare plaaslike en ingevoerde entstowwe vir die huidige Suid-Afrikaanse BKS-stamme is.

“Dit is belangrik dat daar voortdurend getoets word of die entstof steeds die stamme wat in Suid-Afrika voorkom, voldoende aanspreek. Virusveranderinge en moontlike mutasies moet betyds geïdentifiseer word om te voorkom dat ’n entstof met verloop van tyd minder doeltreffend raak,” sê Van Zyl.  

TLU SA meen die huidige benadering volg ’n meer verantwoordelike en doelgerigte pad om BKS beter te beheer.   “Ons het groot waardering vir die rigting wat nou ingeslaan word. Indien die lisensiërings- en regulatoriese prosesse verantwoordelik en sonder onnodige vertragings afgehandel word, kan hierdie ontwikkeling ’n baie belangrike bydrae lewer tot die beskerming van Suid-Afrika se veebedryf en die breër landbousektor,” het Van Zyl gesê.

Die Vrystaatse Departement van Landbou het Vrydag bevestig dat daar tot op hede 799 bevestigde gevalle van Bek-en-klouseer in 19 van die provinsie se munisipaliteite aangemeld is. Hiervan is 644 gevalle suksesvol behandel en kwarantynmaatreëls gelig.

Daar is gevolglik net 155 aktiewe gevalle oor wat onder kwarantyn is, het die departement gesê.

Slegs een nuwe geval van Bek-en-klouseer is die afgelope week in Fauresmith bevestig.

Statistiek wys ook dat die meeste gevalle tot nou toe in die Moqhaka munisipaliteit bevestig is. Die Heilbron Veeartsenykundige gebied waaronder Ngwathe val, het in totaal al 97 bevestigde gevalle gehad, terwyl in die Sasolburg-gebied 64 gevalle bevestig is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button