Plundering by kerk: Dit was nie die eerste keer nie
Die diefstal van koper neem al meer toe en word selfs nie eens kerke gespaar nie.
Verlede week se vandalisme wat met ‘n inbraak by die historiese St Edwards Anglican Church in Parys gesien is, was nie die eerste keer nie. In 2024 het dié kerkgebou wat oor die 100 jaar oud is, ook deurgeloop onder die hande van gewetenlose misdadigers.
Tydens ‘n inbraak by die kerk wat reg oor die poskantoor in Dolfstraat geleë is, is die badkamers gevandaliseer, drade uitgeruk en van die krane, luidsprekers en koperware gesteel. Die gesteelde goedere is egter teruggevind nadat die misdadiger in die kerk se erf opgemerk is, en hy die hasepad gekies het. Die gesteelde goedere was toe reeds in ‘n trollie gelaai.
Die skuldige is nog op vrye voet. Hy het toegang tot die kerkperseel gekry nadat hy oor die muur gespring, en toe ‘n deur by die konsistorie oopforseer het.

Vandaar het hy ‘n pad van verwoesting binne die kerkgebou en op die kerkperseel agtergelaat.
Volgens die kerkopsigter, Mpho Ngobeni, het die polisie haar Donderdagoggend van die inbraak in kennis gestel nadat hulle rondom 06:38 in die verbyry die man in die kerkperseel onder verdagte omstandighede opgemerk het.

Ngobeni sê in die tyd wat sy opsigter van die kerk is, is daar ook in 2024 by die kerkgebou ingebreek.
Die Anglikaanse kerk in Parys is in 1915 gebou met blou graniet afkomstig van ‘n vlugtelingskamp wat by die destydse Feesgronde buite Parys tydens die Anglo-Boereoorlog gevestig was. Vandag vorm die Feesgronde deel van die Parys Golf & Country Estate.

Koperdiefstal is al n geruime tyd ‘n ernstige probleem in die dorp met krane en watermeters wat gesteel word, en word nie eens kerke gespaar nie.
Benewens die Anglikaanse Kerk het NG Kerk in Schonkenville in 2024 twee keer in een week deurgeloop onder dié plunderaars en is selfs die kerkklok gesteel. Net soos die Anglikaanse Kerk is die Schonkenville gemeente se waterpype gesteel, elektriese bedrading uitgeruk en die toilette beskadig.
In die Schonkenville gemeente se geval is egter by die badkamervensters en deur die plafonne toegang tot die kerkgebou gekry. Al die elektriese bedrading op die plafon, en ander elektriese drade in die kerk is uitgeruk, en selfs koperdele van die vensters weggedra.
Die gemeenskapspolisiëringforum het onlangs gewaarsku dat koperkomponente in lugverkoelers ook nou in misdadigers se visier is.



