Botsing eis die lewens van drie skoolkinders; pad steeds gesluit
Sipho Towa, voorsitter van RIMS in die Vrystaat het vroeër vanmiddag gesê dat die pad vir 'n geruime tyd gesluit sal wees.
Die R57 op die R59 brug by Sasolburg waar ‘n tragiese botsing vroeër vanmiddag (8 Oktober) die lewens van drie skoolleerders en ‘n minibusbestuurder ge-eis het, is steeds gesluit vir verkeer.
Die botsing het rondom 16:31 gebeur toe die minibus wat die skoolleerders vervoer het, trompop met ‘n vragmotor gebots het.
Volgens Sipho Towa, voorsitter van Road Incident Management Systems (RIMS) in die Vrystaat, is een pasiënt ook met ‘n noodhelikopter van die toneel na ‘n Gautengse hospitaal vervoer, terwyl vier ander insittendes ligte beserings opgedoen het.


Motoriste is gevra om waaksaam te wees, wetstoepassers se instruksies te volg en alternatiewe roetes te volg terwyl wetstoepassers steeds op die toneel is.
Ons opregte medelye aan die families van die oorledenes.



