Pas bekend: Twee vas na brutale aanval op boer van Noordwes
Die polisie het bevestig dat die moontlikheid van nog arrestasies nie uitgesluit word nie.
Twee verdagtes is vroeër vandag in hegtenis geneem vir die brutale aanval op die 50-jarige Donovan Marx, wat Woensdag 28 Oktober op sy plaas in Syfertontein, Ventersdorp, geskiet, en albei sy ore deur sy aanvallers afgesny is.
Luitenant-kolonel Arthur Peter Adams, polisiekommissaris in die Noordwes-provinsie, het vroeër vanaand die inligting bekendgemaak. Adams het ook gesê dat Marx se bakkie wat tydens die aanval gesteel is, ook intussen verlate gevind is.
Die deurbraak volg na ‘n intensiewe ondersoek onder leiding van die ondersoekbeampte, kaptein Bonita Dry.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort voor die hof verskyn op klagtes van roof en poging tot moord. Die moontlikheid van nog arrestasies is nie uitgesluit nie, het Adams bygevoeg.
Die polisie het vroeër die week bekendgemaak dat die aanval omstreeks 08:30 Woensdagoggend plaasgevind het toe drie gewapende mans wat klapmusse gedra het, van agter die plaashuis te voorskyn gekom en hul vuurwapens op een van die plaaswerkers gerig het wat besig was om gras te sny. Hy is met kabelbinders vasgebind en na die agterkant van die huis geneem.
Toe Marx met sy enkelkajuit Isuzu-bakkie by die huis kom, is twee van die verdagtes na hom toe en is hy in die bolyf geskiet/
Sy aanvallers het hom daarna die huis binnegesleep, sy hande en voete met kabelbinders vasgebind en is hy tydens die marteling onder meer ook met ‘n mes gesteek.
Die verdagtes het die huis deursoek en drie vuurwapens uit ’n kluis geneem voordat hulle met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug het.
Die plaaswerker kon daarin slaag om homself los te kry en het hulp ontbied.

Adams het vanmiddag herhaal dat daar nie gerus sal word totdat diegene wat verantwoordelik was vir die aanval, voor die hof gebring is nie. Hy het ook die ondersoekspan en die boeregemeenskap bedank wat geen steen onaangeraak gelaat het om seker te maak die skuldiges word gekry nie.
Marx is steeds in die waakeenheid van ‘n Potchefstroomse hospitaal waar hy vroeër die week geopereer is. Sy toestand is ernstig maar stabiel.



