Pas bekend: Nog drie gearresteer na wrede aanval op Noordwes-boer
Vandag se arrestasie volg nadat twee verdagtes reeds gister in hegtenis geneem is.
Die polisie het bevestig dat nog drie verdagtes vroeër vanmiddag gearresteer is vir die brutale aanval op die 50-jarige Donovan Marx. Marx is Woensdagoggend 28 Oktober, helder oordag op sy plaas by Syferfontein buite Ventersdorp oorval, geskiet, met ‘n mes gesteek en sy ore afgesny.
Daar is nou in totaal vyf verdagtes gearresteer vir die gewelddadige plaasroof en poging tot moord, het kolonel Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes vanmiddag gesê. Die eerste twee verdagtes is gister gearresteer en is Marx se voertuig wat tydens die aanval gesteel is, ook verlate gevind.
Die verdagtes wat vandag gearresteer is, is in Promosa, naby Potchefstroom, vasgetrek ná intensiewe ondersoek- en operasionele werk, het Myburgh gesê. Tydens die arrestasie is ook beslag gelê op vier vuurwapens, waarvan twee met die Ventersdorp-voorval verbind word, asook kledingstukke en juweliersware.
Die polisie het vroeër die week bekendgemaak dat die aanval omstreeks 08:30 Woensdagoggend plaasgevind het toe gewapende mans wat klapmusse gedra het, van agter die plaashuis te voorskyn gekom en hul vuurwapens op een van die plaaswerkers gerig het wat besig was om gras te sny. Hy is met kabelbinders vasgebind en na die agterkant van die huis geneem.
Toe Marx met sy enkelkajuit Isuzu-bakkie by die huis kom, is twee van die verdagtes na hom toe en is hy in die bolyf geskiet/
Sy aanvallers het hom daarna die huis binnegesleep, sy hande en voete met kabelbinders vasgebind en is hy tydens die marteling onder meer ook met ‘n mes gesteek.
Die verdagtes het die huis deursoek en drie vuurwapens uit ’n kluis geneem voordat hulle met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug het.

Die provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Arthur Peter Adams, het die jongste arrestasies verwelkom. Hy het ook lof gehad vir die ondersoekspan onder leiding van kaptein Bonita Dry, vir hul volharding en vasberadenheid om leidrade op te volg.
Die vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 26 en 56 jaar, sal na verwagting Dinsdag 3 November onderskeidelik in die Ventersdorp- en Potchefstroom-landdroshowe verskyn op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Marx is steeds in die waakeenheid van ‘n Potchefstroomse hospitaal.



