Viljoenskroner laat laat die hamer vlieg as SA se 016-kampioen
Agter Geyser se sukses lê ure se harde werk saam met sy afrigter, Tshepang Makhethe van Sasolburg.
‘n Jong atleet van Viljoenskroon het met die 4kg-hamer en ‘n persoonlike beste afstand van 64,65m, die seisoen afgesluit as die nommer een o16-hamergooier in die land.
Wat Marno Geyser se prestasie nog meer merkwaardig maak is dat hy die enigste o16 seunsatleet in Suid-Afrika was wat gedurende die seisoen verder as 60m kon gooi.
Geyser het reeds na afloop van die NWU Wildeklawer Top 30 byeenkoms, wat middel Oktober in Sasolburg plaasgevind het, na die swaarder 5kg-hamer oorgeskakel. As junior o18 het hy met die swaarder gewig ook ‘n persoonlike beste van 58,90 m behaal. Dit beteken dat hy die 2027-seisoen in ‘n derde plek op die hamergooiranglys vir seuns o18 afskop.

Agter Geyser se sukses lê ure se harde werk saam met sy afrigter, Tshepang Makhethe van Sasolburg. Onder Makhethe se leiding het Geyser nie net krag en tegniek ontwikkel nie, maar ook die dissipline wat van ‘n kampioen vereis word.
Marno saam met sy afrigters, Tshepang Makhethe (regs) en Phethisang Makhethe (links) van Makhethe Thrower Academy in Sasolburg.
Marno saam met sy afrigters, Tshepang Makhethe (regs) en Phethisang Makhethe (links) van Makhethe Thrower Academy in Sasolburg.
“Teen die einde van 2026 behoort Marno ook die 60m merk met die 5kg-hamer verby te steek en teen die einde van die volgende seisoen behoort hy diep in die sestigs te gooi” sê sy afrigter.

Met drome van die Suid-Afrikaanse vlag oor sy skouers, en ‘n goue toekoms voor hom, is Geyser beslis ‘n naam om dop te hou – die seun van Viljoenskroon wat die hamer laat vlieg.



