News

Bewusteloos, maar hulle het toe nog geleef

  Samuel Jubeda en Simon Tjixa het nog geleef toe hulle na die Parys-hospitaal geneem is die aand van 6 Januarie 2016, maar hulle was bewusteloos en het vlak asem gehaal. Een van die mans het ‘n kopwond gehad terwyl die ander ‘n wond net onder die ken gehad het.  Beide het ook kneusmerke oor …

 

Samuel Jubeda en Simon Tjixa het nog geleef toe hulle na die Parys-hospitaal geneem is die aand van 6 Januarie 2016, maar hulle was bewusteloos en het vlak asem gehaal. Een van die mans het ‘n kopwond gehad terwyl die ander ‘n wond net onder die ken gehad het.  Beide het ook kneusmerke oor hul gesig en bors gehad. So is daar vandag  in die rondgaande hof in Parys getuig in die saak teen 6 mans van Parys wat tereg staan op 2 klagte van moord na die dood van Jubeda en Tjixa.                   Terwyl oor die beserings getuig is, het Ruth Qokotho, Tjixa se ma, die hof verlaat.

Die beskuldigdes in die saak is Boeta van der Westhuizen (46), Van der Westhuizen se seun Loedie (19), Anton Loggenberg (50), en Loggenberg se seun Cor, (20), kapt Henk Prinsloo (47) en Miela Jansen van Vuuren (23). Beide Boeta en Loedie van der Westhuizen staan ook naas die 2 klagtes van moord tereg op ‘n klag van regsverydeling. Al 6 het gister, Donderdag 4 Mei, skuld ontken op die klagtes.

Die staat het vanoggend Lina Maronsela, ‘n werknemer van die Vrystaatse nood mediese dienste geroep as sy tweede getuie. Maronsela is die aand van 6 Januarie 2016 kort nadat sy aan diens gekom het, deur haar bevelvoerder  gevra om na die toneel te gaan waar twee mans na bewering aangerand en moontlik deur honde gebyt is.

Sy het getuig dat sy met die reaksievoertuig na die toneel is en dat ‘n ambulans vroeer uitgestuur is. Maronsela het ook getuig dat sy die polisiewa langs die pad gekry het asook die ambulans met een van die verdagtes wat toe reeds oorgelaai was in die ambulans. Die bestuurder en bemanningslid was  besig om die tweede persoon oor te laai.

Sy het getuig dat een van die beseerdes erg gebloei het as gevolg van ‘n kopwond en dat daar ook bloed by sy mond uitgekom het. In kruisondervraging het sy gese dat sy die bloed met gaas en verbande probeer stop het. Sy het ook in kruisondervraging gese dat daar reaksie was toe sy in een van die beseerdes se oe gekyk het, terwyl die ander beseerde net reaksie in een oog getoon het.

Sy het die beseerdes se toestand gemonitor  agterin die ambulans onderweg na die Parys Distrik-hospitaal.

Kort voordat die hof vanmiddag verdaag het is a.o. Joseph Hunter van die Parys Speurtak deur die staat geroep as getuie. Hy was die aand op bystand en is na die toneel ontbied. Hy was lank op die toneel en is toe hy klaar was met sy verpligtinge  saam met die stasiekommissaris na die Parys-hospitaal om die beweerde verdagtes van die plaasaanval wat op die plaas Swartklip gearresteer is, te gaan sien.

Hunter het gese dat daar lank gewag is vir die ambulans by die hospitaal. Ook hy het getuig dat die mans met hul aankoms bewusteloos was, en terwyl hy nie ooglopende beserings op die een kon sien nie, dit duidelik was dat die ander een se kop geswel was en daar bloed aan sy gesig was.

Hunter het getuig dat die dokter die mans se klere van hulle afgesny het en hulle behandel het. Hy het die klere in plastieksakke gesit. Dit was nat en daar was bloed aan een van die verdagtes se klere. Hy kon geen bytmerke aan die verdagtes se liggame sien nie, maar wel drie rooi hale oor die een verdagte se bors.

Hunter is die volgende dag terug na Swartklip waar hy ‘n sakkie dagga en ‘n pakkie sigarette gekry het.  Hy het gaan soek na die vuurwapen wat die verdagtes na bewering by hulle sou gehad het, maar glo van ontslae geraak het voor hulle gearresteer is. Hy kon egter nie die vuurwapen in die veld kry nie.

Die dossiere onderskeidelik vir die plaasaanval en moord is die dag na die gebeure volgens Hunter aan die Valke oorhandig, en het hy  nie verder die saak ondersoek nie.

Hunter sal Maandag 8 Mei kruisondervra word wanneer die hofverrigtinge hervat word.

Sers. Gerhard Keyser van die Parys SAPD was Donderdagmiddag die eerste getuie om geroep te word. Hy het getuig dat hy op 6 Januarie 2016 na Loedie van der Westhuizen (Sr) se plaas. Biesiesbult, in die Weiveld-distrik uitgeroep is waar Van der Westhuizen aan hom gese het dat hy ‘n slagoffer van ‘n plaasaanval was. Van der Westhuizen het bloed aan sy arm en gesig gehad en dit het voorgekom asof hy aangerand is. Keyser het voorts getuig dat Van der Westhuizen gese het dat sy aanvallers gevlug het toe hy die paniekknoppie gedruk het. Keyser het ook gese dat daar merke op die muur langs die paniekknoppie was wat soos bloed gelyk het.

Sowat ‘n uur en ‘n half later is Keyser weg van Biesiesbult na ‘n tweede toneel op die plaas Swartklip waar twee verdagtes glo aangekeer is. Daar gekom het hy twee mans agterop ‘n wit bakkie sien le. Hulle was erg beseer en die een se kop was geswel. Keyser het ook getuig dat albei bewusteloos was en vlak asem gehaal het.

Hy het  gehelp om die verdagtes agterin die polisiewa te laai en het toe stadig en versigtig gery om die ambulans langs die pad te ontmoet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button