Vakansiepret om hande te versterk
Swak handspiertjies is deesdae een van die groot probleme onder kinders en wel om verskeie redes. Dit mag wees dat die kind se spiere swakker as normaal is, omdat hulle lae spiertonus het, of omdat hulle dalk ʼn geboortebesering gehad het of met ʼn afwyking gebore is. Deesdae is dit algemeen dat kinders wat baie …

Swak handspiertjies is deesdae een van die groot probleme onder kinders en wel om verskeie redes. Dit mag wees dat die kind se spiere swakker as normaal is, omdat hulle lae spiertonus het, of omdat hulle dalk ʼn geboortebesering gehad het of met ʼn afwyking gebore is.
Deesdae is dit algemeen dat kinders wat baie rekenaarspeletjies speel en elektroniese media gebruik, swak handspiere het.
Hierdie swakheid het ’n direkte invloed op hulle skrif, leesbaarheid as hulle skryf, asook die spoed waarmee hulle kan skryf en byhou om af te skryf van die bord af.
Hier volg aktiwiteite wat sal bydra om die handspiere te versterk.
Klim en klouter:
Laat gerus u kind toe om op speelapparaat buite te speel. Die klimaksie hand-aan -die-arms dra alles by om spiere in die arms en skouers te versterk wat nodig is vir goeie handfunksie.
Knip en plak:
Die gebruik van ’n skêr vorm deel van skrif voorbereiding.
Die greep op die skêr versterk die vingertjies wat die pen/potlood vashou, asook die fyn koördinasie nodig vir die beheer van die pen wanneer geskryf word.
Gebruik stomppunt skêrtjies vir kleingoed en hou maar liewer toesig wanneer hulle dié aktiweite doen.
Dit is baie meer pret as kinders verskillende teksture kan knip.
Kleingoed wat nou begin knip sal dit geniet om klei wurms te rol en te knip. Gee ook afvalstukkies materiaal, tou, wol of verskillende teksture en dikte papier.
Gee verbeeldingvrye teuels en laat die kind toe om prentjies te teken wat hulle dan kan plak met dit wat hulle geknip het, in plaas van inkleur.
Papier frommel:
Gebruik ’n vel koerantpapier en laat die kind dit met albei handjies druk totdat dit ʼn stywe bolletjie gevorm het.
Laat die kind toe om ten minste 10 bolletjies te vorm en laat hom dan toe om teiken te gooi daarmee – gebruik ’n emmer of leë karton hiervoor.
Groter kinders kan twee velle gelyk neem en kyk of hulle twee balle gelyk kan vorm.
Maak seker dat hulle goed hande was na afloop van die aktiwiteit omdat die ink gebruik vir drukwerk, skadelik mag wees.
Kleispel:
Hierdie aktiwiteit is steeds heerlike pret vir kinders en een van die beste maniere om handfunkie te verbeter.
Die volgende resep se klei hou lank indien dit in ’n bakkie of ziploc sakkie gehou word.
2 koppies meelblom (of gebruik mieliemeel vir ander tekstuur)
1 koppie sout
2 teelepels olie
2 koppies water
4 teelepels kremetart (cream of tartar)
Voedselkleursel
Gooi alles in ʼn pot en roer goed.
Verhit oor matige hitte terwyl jy bly roer (gooi nou kleursel by as jy nog nie het nie).
Hou aan roer totdat die mengsel verdik en saam bondel.
Voel versigtig of dit nog klewerig is – hou aan roer. Sodra die klei elasties lyk, gooi uit op werkoppervlak of bord en brei totdat dit hanteerbare klei vorm.
Gee gerus vir jou kinders ʼn koekroller, koekievorms, stomppunt skêrtjie, plastiese mes en vurk sodat hulle kan rol, sny en knip na hartelus.
Daar is nog ’n paar dae vakansie oor – benut hierdie tyd goed!



