NewsNews

Welkom in Parys (4)

Verdwaal in Parys? My swaer vertel my nou die dag hoe hy in Parys verdwaal het. Sy seun het hier in die Parys gebly en hy het kom kuier en toe gou ‘middestad’ toe gery om ‘n apteek te soek. Toe hy terugry, toe kry hy nie die huis nie. Hopeloos verdwaal. Ek lag toe …

Verdwaal in Parys?
My swaer vertel my nou die dag hoe hy in Parys verdwaal het. Sy seun het hier in die Parys gebly en hy het kom kuier en toe gou ‘middestad’ toe gery om ‘n apteek te soek.
Toe hy terugry, toe kry hy nie die huis nie. Hopeloos verdwaal. Ek lag toe en vertel hom ek het ook in die begin verdwaal. Want verrassings vir ‘n nuweling in Parys is daar heelwat.
Die snaakse eenrigtingstraat wat skielik ophou. Die vierrigtingstoppe wat partykeer net tweerigting is, die stoptekens wat agter bome weggesteek is, die ouens wat nie by stoptekens stilhou nie, maar stadig voortbeweeg. Toe die taxi amper in my vasry, het ek besef ‘n mens moet maar baie versigtig wees en eerder stop en wag en maar die ander een, soms uit sy beurt, ’n kans gee om te ry.
Hoekom ander strate nie eenrigting is nie, is vir my ook vreemd. Hoekom die een voortrek voor die ander? Dalk sal ek tog eendag insig in die logika van die goed kry.
Intussen het ek geleer waar en hoe om te ry en dis darem nie so sleg as ‘n mens eers daaraan gewoond is nie.
Dan moet ek bysê: die meeste ouens is bedagsaam en as ons gelyktydig by die vierrigting stop, beduie hulle meermale vir my om eerste te ry. Welgedaan, motoriste van Parys.
So van verkeer gepraat. Gelukkig het die stadsbeplanner Breëstraat breed gemaak. Of hy die massas verkeer voorsien het en of hy soos die gewoonte was in die ou dae om dit breed genoeg te maak het vir ’n ossewa en span osse om om te draai, weet ek nie, maar die verkeer op die pad is skrikwekkend met die swaar voertuie wat onophoudelik soos stoete deurbeweeg.
Party van die goed is so groot dat die helfte van die straat nie breed genoeg is nie. Wonder waarheen is al die goed op pad. Jammer hier is nie ‘n verbypad vir swaar en superswaar voertuie nie.
Van verkeerreguleerders gepraat (karwagte), ek het nog nooit soveel van hulle op so ‘n klein oppervlakte gesien nie. Oor naweke wanneer dit toeriste-oestyd is, is daar nog meer. Ek weet nie hoe word dit beheer nie, en ek wil ook nie weet nie, maar ek gun elke karwag sy pondjie vleis. Ons almal sukkel maar.
Intussen hou ek maar my oë op die pad en die gate. En as daar iemand is wat my voorkeur gee by ‘n vierrigtingstop met ‘n glimlag op sy/haar gesig, dan voel ek:
Ek is welkom in Parys!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button