Koor- en orkesuitvoering in Vredefort
Op Saterdagaand 17 Februarie om 18:30 vind die afsluitingskonsert van die internasionale Vroeë Musiek-kursus plaas. Dit word by die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein in die Vredefort Koepel gehou. Die seminaar Cantare e sonare word gesamentlik deur die Oostenrykse musiekvereniging met dieselfde naam, en die Koepel Kunstesentrum georganiseer. Die ensemble bestaan uit ongeveer 60 sangers en …
Op Saterdagaand 17 Februarie om 18:30 vind die afsluitingskonsert van die internasionale Vroeë Musiek-kursus plaas. Dit word by die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein in die Vredefort Koepel gehou.
Die seminaar Cantare e sonare word gesamentlik deur die Oostenrykse musiekvereniging met dieselfde naam, en die Koepel Kunstesentrum georganiseer. Die ensemble bestaan uit ongeveer 60 sangers en instrumentaliste – die meerderheid daarvan uit Oostenryk en Suid-Tirool. Hulle bied ’n program van werke van onder andere Schütz, Schein, Haßler, Monteverdi en di Lasso aan – almal komponiste van die vroeë Baroktydperk.
Baie besonders van die uitvoering is die gebruik van oorspronklike musiekinstrumente soos dit in die tyd van die komponiste gebruiklik was. Afgesien van die barokstrykinstrumente, die orrelpositief en twee klawesimbels, word skaars blaasinstrumente ingespan, soos die barokskuiftrompette en kornette. Laasgenoemde instrument was in die tyd rondom 1600 die gewildste sopraaninstrument, en is eers mettertyd deur die viool verdring. Dit is ‘n blaasinstrument met klankgate soos ‘n blokfluit en ‘n trompetmondstuk, en sy klank kom baie na aan die menslike stem. ‘n Gewilde praktyk van daardie tyd was om die musiek met twee of meer groepe instrumente en sangers wat op verskillende plekke in die saal of kerk geplaas is, uit te voer – die sogenaamde meerkorige styl. Die luisteraar word sodoende omring deur die musici. Die kerk in Vredefort leen homself by uitstek tot hierdie gebruik, en saam met die goeie akoestiek, verseker dit ’n meesleurende klankbelewenis.
Besonderhede oor die kursus en konsert is op www.deelfontein.co.za beskikbaar, en op Facebook onder Dome Arts Retreat. Dit is nie nodig om te bespreek nie. Kaartjies kan teen R100 by die deur gekoop word.



