Hof sal môre hoor oor regsverteenwoordiging
Die ses beskuldigdes wat aangekla is van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeda, sal môre, Vrydag 8 Junie, voor regter Corné van Zyl in die Hoë Hof in Parys ’n aanduiding gee van wat hul onderskeie posisies ten opsigte van regsverteenwoordiging is.

Die verhoor is op Woensdag 16 Mei uitgestel sodat elkeen van die beskuldigdes hul eie regsverteenwoordiging kon kry.
Dit het gevolg nadat adv. Koenie Pieterse wat namens Boeta van der Westhuizen (48), Loedie van der Westhuizen (20), Miela Jansen van Vuuren (25), kapt. Henk Prinsloo (48), Anton Loggenberg (51) en Cor Loggenberg (21) verskyn het, asook die prokureurs Hannes Grimbeek en Kobus Burger, van die saak onttrek het.
Burger het Anton Loggenberg, sy seun, Cor, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren verteenwoordig, terwyl Grimbeek kapt. Henk Prinsloo verteenwoordig het.
Van die oorspronklike regspan sou net Gideon Mandelstam aanbly om Boeta van der Westhuizen te verteenwoordig, tesame met ’n advokaat wat vir hom aangestel sou word vir verskyningsdoeleindes.
Die onttrekking van die lede van die regspan het gekom ná kruisondervraging van Boeta van der Westhuizen waaruit sekere kwessies gekom het wat ’n moontlike botsing van belange kon veroorsaak wat al ses beskuldigdes kan beïnvloed, sou die regspan aanbly.
Daar is toe aangedui dat Anton Loggenberg sy eie regsverteenwoordiging sou kry, terwyl kapt. Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen om regshulp sou aansoek doen. Miela Jansen van Vuuren sou ook sy eie regsverteenwoordiging kry, is aangedui.
Die saak sou aanvanklik hierdie week, van 4 tot 8 Junie, weer na die laaste sitting in Mei, in die hooggeregshof in Parys hervat het, maar in die lig van die onttrekking van die lede van die regspan, is die uitstel na 8 Junie gegee om die regsverteenwoordiging vir die beskuldigdes uit te sorteer.
Sou daar regsverteenwoordigers aangestel wees teen môre, sal ’n volgende hofdatum om die verhoor te hervat, bepaal word. As dit egter sou gebeur dat daar steeds nie regsverteenwoordiging is nie, sal nog verdere uitstel gegee moet word.
Die staat wat reeds sy saak gesluit het, voer aan dat die oorledenes na bewering op 6 Januarie 2016 sodanig op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik aangerand is, dat hulle kort daarna in twee afsonderlike hospitale oorlede is.
Die oorledenes is na bewering daarvan verdink dat hulle betrokke was by ’n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen sr. Hy is vier maande gelede oorlede.




