Graaf-aanvaller blitsig vasgetrek
’n 18-Jarige man is Woensdagmiddag net sowat ’n uur nadat hy die 68-jarige Braam van der Merwe in sy huis in Kortstraat met ‘n graaf aangerand het, in ‘n oop veld naby sy slagoffer se huis in hegtenis geneem. Dit danksy blitsige optrede van die polisie en lede van die gemeenskap. Volgens Braam se dogter, …

’n 18-Jarige man is Woensdagmiddag net sowat ’n uur nadat hy die 68-jarige Braam van der Merwe in sy huis in Kortstraat met ‘n graaf aangerand het, in ‘n oop veld naby sy slagoffer se huis in hegtenis geneem. Dit danksy blitsige optrede van die polisie en lede van die gemeenskap.
Volgens Braam se dogter, Shael Koekemoer, was haar pa alleen in sy huis wat baie naby aan Allenbystraat is, toe die man doodluiters by die agterdeur ingestap het. Die deur was nie gesluit nie.
Die man het haar pa in die eetkamer oorval waar hy by die rekenaar besig was, en toe met ‘n graaf oor die kop geslaan. Hy het vermoedelik die graaf in die erf gekry.
“Ek weet nie hoekom ek daardie dag vroeër na my pa se huis gestap het nie. Ek eis om te dink wat sou gebeur het as ek nie daar was nie” het Shael vertel. Syself bly nie ver van haar pa af nie.
Sy het op haar pa se aanvaller in die kombuis afgekom waarop hy op die vlug geslaan het. Niks is uit die huis gesteel nie. Braam is met ‘n kopwond na die Parys-hospitaal geneem vir behandeling en moes 40 steke kry. Hy het ook skaaf- en kneuswonde aan sy lyf.
Ten spyte van die trauma is daar soveel dankbaarheid, sê Shael. “Ek staan nederig in dankbaarheid teenoor ‘n gemeenskap wat ‘n vreemde in nood wou help. Dit kon so maklik anders gewees het.” Sy sê was dit nie vir die polisie en die omgee van ‘n gemeenskap nie, sou daar nie so vinnig daarin geslaag kon word om die man vas te trek nie.
Die man sou Maandag voor die hof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.
Shael sê dankie aan die polisie, paramedici van IMR, CSS Sekuriteit en We Care vrywilligers, asook Chané Grimbeek wat haar en haar pa so gou te hulp gesnel en ondersteun het.
Veiligheidswenke om te onthou:
* Wees bedag op verdagte persone, voertuie of beweging in jou woonbuurt. Moet nooit dink dat inligting waardeloos is nie. Rapporteer dit onmiddellik aan die polisie as jy onraad vermoed.
* Maak seker jou deure, veiligheidshekke en motorhekke is te alle tye gesluit.
* Moet nooit enigeen wat jy nie ken, in jou huis toelaat nie.
* Moenie waardevolle items in jou huis laat rondlê nie.
* Weet wie jou bure is en hou ‘n lys byderhand met hul kontaknommers. Dit maak dit soveel makliker in geval van nood.
* Stoor noodnommers op jou selfoon waar jy dit maklik kan kry, maar hou ook die nommers sigbaar in jou huis sou jy nie jou selfoon byderhand het nie.
* Bêre tuingereedskap en ander tuin- en elektriese toebehore. Nie net vir jou eie veiligheid nie, maar ook om nie ‘n uitnodiging te rig aan misdadigers wie se oë oop is vir dinge wat rondlê.
* Laat weet jou bure en sekuriteitsmaatskappy as jy nie tuis is nie, sodat hulle bedag sal wees op vreemde bewegings by jou huis.
* Maak saans jou gordyne toe. Sodoende maak jy dit moeiliker vir huisbrekers om hul vensterinkopies vooraf te doen. ‘n Groot plasma TV-skerm, rekenaarskerm en ander waardevolle items is maklik sigbaar saans wanneer ligte aan is en jou gordyne oop is. Dit verklap ook baie van wat in jou huis aangaan.





