Ramaphosa: Lewe sal nie weer dieselfde as vroeër wees nie
'n Nuwe realiteit staar ons in die gesig

President Cyril Ramaphosa het in sy jongste nuusbrief geskryf dat Suid-Afrikaners hulself moet gereed maak om vir die volgende jaar of langer met Covid-19 saam te leef.
Hy sê Suid-Afrikaners moet voorbereid wees vir die nuwe werklikheid waarin die stryd teen die virus deel sal wees van elkeen se daaglikse lewe, en dat die veranderinge wat elkeen van ons aan ons lewens sal maak, uiteindelik gaan bepaal hoe suksesvol ons sal wees in die stryd teen die virus.
Hy het gesê dat selfs wanneer die inperkingstyd verby is, mense steeds afstand tussen mekaar sal moet hou, maskers sal moet dra, gereeld moet hande was en kontak met ander mense moet vermy.
Werksplekke, skole, universiteite, kolleges en openbare plekke sal so geherorganiseer moet word om die virus verspreiding te keer. Daar sal aangepas moet word by nuwe maniere van oefening, byeenkomste, aanbidding en sosialisering juis om virusoordrag te beperk.
Hy sê selfs in lande waar inperking al verslap is regoor die wêreld, is dit ‘n realiteit wat lande mee gekonfronteer sal word.
Hy sê ook dat gesondheidskenners oor die wêreld waarsku dat ‘n tweede vlaag van infeksies moontlik is as inperking opgehef word.
Mnr. Ramaphosa het gewaarsku dat syfers mag styg namate mense terugkeer na die werk soos ook in ander lande gesien word.
Hy sluit af met die woorde dat soos wat inperking verslap word, lewe stadig maar seker sal terugkeer maar nie weer dieselfde sal wees as vroeër nie.





