News

‘Die stoep gaan nooit weer dieselfde klink sonder jou nie’

‘Die stoep gaan nooit weer dieselfde klink sonder jou nie’

“My kop is ‘n kaleidoskoop van helder kleure, want kleurvol was sy …’n uitsonderlike mens, ’n ware dame, ’n waaghals, ’n rebel, ’n blom ghuru, hardwerkend en met ’n uitgesproke opinie.”

So het Esmarie Strydom verlede week op haar Facebookblad geskryf na die dood van haar ma, Ansie Haasbroek (80) op Woensdag, 10 Junie.
“Op 70 het sy nog senuwees gehad vir ‘bungee jump’ – nie omdat sy dit regtig so graag wou doen nie, maar sy het ’n pensioenaris-afslag beding terwyl die kleinkinders gespring het – en van ’n bargain het sy gehou.”
“Daar’s min ander oumas of tannies wat in die besige strate van Tokyo agter op ’n bromponie sou ry en dan die bestuurder sou aanhits om nog vinniger te ry. Op 75 nog die steiltes van middeleeuse dorpies in Umbrua en Tuscany uit te stap.”
“Die enigste iets waaroor sy my dalk kon verkwalik is dat ek verlede jaar my voet neergesit het vir valskermspring.”
Sy was ’n tekenaar (draftswoman) van beroep wat vir 25 jaar elke dag met hoë hakke en gedoende hare agter ’n tekenbord gesit het. “Ek het my dikwels verstom oor die presiesheid waarmee sy planne kon natrek.”

“Sy het ’n uitgebreide kennis van plant- en blomname gehad.
Deugsaam, dit was sy, en ’n ewige rebel van 8 tot 80 was net so deel van wie sy was.”
“Een van min mense van haar ouderdom wat ten minste vyf pare rooi skoene in haar kas gehad het wat sy met styl kon dra. Talentvol was sy. ’n Ware blomkunstenaar wat tot haar dood ’n aktiewe erelid van die SA Blomme Unie (SAFU) was. Sy het vele wêreldskoue bygewoon en self ook deelgeneem. Blomme was haar lewe.”
“Iewers in die laat negentigs het sy selfs die ere-rangskikking namens die SA Blomme Unie vir die ‘Queen’ by die Chelsea-skou in London gedoen.”

“Sy het hard gewerk, geweet van spaar, maar kon ook met goeie beplanning en ’n ysere wil daarin slaag om die wêreld te sien. Niks was te veel moeite nie – haar lewensuitkyk was nie verniet dinge het nie ’n wil nie – jy het ’n wil. ’n ‘One of a kind.’”
Ansie was die afgelope vyf jaar in Parys gevestig. Vyf kleurvolle jare waar sy spore gelaat het. Spore soos dié op die stoep van La Vie & Rose waar sy die middelpunt van die hekelgroepie was.

“Ons harte is gebreek vandag … mis reeds die pret en kuiers … die stoep gaan nooit weer dieselfde klink op ‘n Woensdag. Vandag word ons wolle geknoop en ontrafel,” het Corien Pretorius van La Vie Woensdag in haar huldeblyk aan Ansie geskryf.

’n Virtuele gedenkdiens word Vrydag, 19 Junie vir haar gehou. Sy word oorleef deur haar dogter Esmari en kleinkinders Eugene, Nadine en Gill, asook twee agterkleinkinders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button