NewsNews

Samesprekings vandag op provinsiale vlak gehou oor Eskom, Ngwathe krisis

‘n Opvolgvergadering word vandag, 16 Julie gehou tussen Eskom, die Ngwathe bestuur, die Vrystaatse tesourie, Department of Cooperative Governance and Traditional Affairs (COGTA) en SALGA  in ‘n poging om voorstelle op die tafel te kry wat vir beide Eskom en Ngwathe werkbaar sal wees ten opsigte van Parys se huidige kragkrisis wat veroorsaak dat Parys …

‘n Opvolgvergadering word vandag, 16 Julie gehou tussen Eskom, die Ngwathe bestuur, die Vrystaatse tesourie, Department of Cooperative Governance and Traditional Affairs (COGTA) en SALGA  in ‘n poging om voorstelle op die tafel te kry wat vir beide Eskom en Ngwathe werkbaar sal wees ten opsigte van Parys se huidige kragkrisis wat veroorsaak dat Parys se inwoners en besighede daagliks swaar gebuk gaan onder beide munisipale en Eskom beurtkrag.

Die gvolg is ure sonder krag te midde van bittere koue temperature en besighede wat alreeds sukkel in moeilike ekonomiese tye as gevolg van die Covid-19 pandemie.

Vandag se samesprekings volg nadat daar Maandag nog geen oplossings gekry kon word tydens samesprekings tussen senior bestuur van Ngwathe, die Ngwathe Eskom-taakspan, Eskom en provinsiale verteenwoordigers.

Eskom is steeds nie geneë om sy maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te verhoog nie, tensy Ngwathe omskakel na voorafbetaalde aankope met ‘n deposito vir drie maande se verbruik. Dit beteken vir Ngwathe dat R77 miljoen onmiddellik betaalbaar is – geld wat die munisipaliteit nie het nie. Die provinsie en SALGA probeer nog oplossings vind, maar wat die pad vorentoe vir Ngwathe inhou, is steeds nie seker nie.

Eskom het verlede week in reaksie op mediaberigte waarin rdl. Phillip van der Merwe van die Vryheidsfront Plus gewys het op Ngwathe se besoedeling van die Vaalrivier juis weens die daaglikse beurtkrag wat ook kragvoorsiening na noodsaaklike dienste soos die rioolpompe, en watervoorsiening- en rioolbehandelingsaanlegte raak, teruggekap en gesê dat die kragreus soos in die verlede al sy verpligtinge ten opsigte van kragvoorsiening aan Ngwathe nakom.

Die Ngwathe munisipaliteit sluit die dorpe Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville in.

Die hoofoorsaak van die munisipale rotasie beurtkrag het ontstaan uit Eskom se weiering om meer krag aan die munisipaliteit te voorsien as waarop daar oorspronklik in 2008 ooreengekom is. Eskom pas tans ‘n limiet van 21 KVA toe, terwyl die munisipaliteit se behoefte sedert dié ooreenkoms vergroot het tot 25 KVA. Volgens Eskom kan die aansoek vir verhoging van die sogenaamde Notifiable Maximum Demand (NMD) nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer. Eskom voer aan dat die munisipaliteit se kragvoorsiening verhoog sal word sodra die munisipaliteit onderneem om sy groot agterstallige rekening te betaal.
Die kragreus het wel ook bevestig dat samesprekings gehou word oor die kwessie van die verhoging, maar gesê dat daar nie roekeloos opgetree sal word deur die vraag na elektrisiteitsvoorsiening te verhoog as die risiko vir wanbetaling hoog is nie.

Parys se inwoners het die afgelope maand, maar veral die afgelope week, te midde van ysige temperature swaar gebuk gegaan onder enorme uitdagings rondom kragvoorsiening. Benewens daaglikse rotasie beurtkrag, het Eskom sedert verlede Vrydag fase 2 beurtkrag landwyd ingestel.

Die Vryheidsfront Plus verskil egter van Eskom se reaksie op die besoedelingsberigte en sê in die voorsieningsooreenkoms is daar geen sprake van enige “kredietbeheermaatreëls” wanneer die grootmaatvoorsieningskapasiteit (NMD) aangepas moet word nie.
“Dit kom voor asof Eskom die begrip ‘uitstaande skuld’ verwar met die begrip ‘opeisbare skuld’. Ngwathe se hoof finansiële beampte het aan die VF Plus bevestig dat die munisipaliteit deurentyd streng by die paaiemente-skedule hou en op datum is met betalings. Die totale uitstaande skuld is gevolglik nie “opeisbaar” nie,” sê rdl. Van der Merwe.
Hy meen ook dit sal geen “roekelose” optrede van Eskom vereis om die munisipaliteit se aansoek om verhoging van die ooreengekome NMD te akkommodeer nie. Rdl Van der Merwe sê die bestaande infrastruktuur is heeltemal voldoende en geen grootskaalse uitbreiding van Eskom se kapasiteit is nodig om gerieflik aan Ngwathe krag te voorsien nie. Eskom beskik reeds oor twee transformators in Parys wat elk 20 KVA krag kan voorsien. Alhoewel een van die transformators ‘n mate van herstelwerk benodig, kan beide transformators gemaklik in Parys se behoefte van 25 KVA voorsien, sê hy.

“Dit is geen geheim dat Eskom sukkel om die ligte aan te hou weens probleme met sy eie opwekkings- en instandhoudingsvermoë nie.” Hy sê verder Eskom verkies om die skuld na munisipaliteite te verskuif. “Die regering skuld homself nie net geld nie, maar laat toe dat die ekonomie en sy inwoners daaronder ly.”

Die Ngwathe munisipaliteit het Vrydagaand by monde van sy waarnemende tegniese direkteur, mnr. Henk Coetzer, daarop gewys dat wanneer Eskom beurtkrag instel, dit nie die daaglikse munisipale rotasie beurtkrag vervang nie.
Die verklaring sê munisipale beurtkrag is juis ingestel om die enkele ten volle werkende Eskom transformator in Parys teen oorlading te beskerm, want sou dit oorlaai word, sal die hele Parys vir ‘n aansienlike tyd sonder krag sal laat.

Sou mense kragonderbrekings buite die geskeduleerde tye ervaar, kan dié nommers geskakel word:

082 909 3464

071 590 5706

071 592 3579

071 525 3415

071 525 5888

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button