En steeds loop die rioolwater in die rivier….
Parys – Sedert gister, Dinsdag 14 Julie loop bloederige rioolwater weer uit ‘n verstopte mangat by die Sandgat in Rotarylaan in die Vaalrivier in. Parys Gazette het op 24 Junie berig oor die verstopping by dié mangat toe bloedwater ook hier in die Vaalrivier ingeloop het. Rioolbesoedeling wat al male sonder tal hier deur die …
Parys – Sedert gister, Dinsdag 14 Julie loop bloederige rioolwater weer uit ‘n verstopte mangat by die Sandgat in Rotarylaan in die Vaalrivier in.
Parys Gazette het op 24 Junie berig oor die verstopping by dié mangat toe bloedwater ook hier in die Vaalrivier ingeloop het. Rioolbesoedeling wat al male sonder tal hier deur die Vaal Action Group (VAG) gerapporteer is.
Volgens VAG se rekords het dié mangat net vanjaar alleen ook op 5 Februarie, 16 Maart, 26 Maart, 5 Junie en 18 Junie oorgeloop.


Die foto’s is in Junie deur die Vaal Action Group (VAG) by dieselfde mangat by die Sandgat in Parys geneem.
Die Vryheidsfront Plus het reeds ‘n skrywe aan die adjunkpresident David Mabuza gerig om dringend in te gryp om besoedeling van die Vaalrivier stop te sit, omdat dit veral in die lig van die Covid-19 pandemie onaanvaarbaar is.
Daaglikse munisipale rotasie beurtkrag affekteer al ‘n geruime tyd noodsaaklike dienste in Parys waaronder ook die rioolpompe wat nou noodwendig van elektrisiteitstoevoer afgesny is. Des te meer ook nou met bykomende Eskom beurtkrag benewens munisipale rotasie beurtkrag.
VF Plus raadslid Phillip van der Merwe, het verlede week aan Gazette gesê dat Eskom se weiering om die substasiekapasiteit vir Ngwathe te vergroot, daartoe bydra dat Ngwathe hom skuldig maak aan besoedeling van die Vaalrivier.
Hy het in ‘n skrywe gesê dat rioolvuil, wat ook bloed uit die plaaslike abattoirs bevat, direk in die Vaalrivier vloei weens rioolpompe wat weens beurtkrag nie werk nie. Dit terwyl die Vaalrivier ‘n noodsaaklik waterbron vir duisende Suid-Afrikaners is.
Munisipale rotasie beurtkrag is in Junie in Parys ingestel omdat die huidige elektrisiteitsverbruik van die munisipaliteit die kapasiteit wat die Eskom-substasie tans kan lewer, oorskry.
Die enigste blywende oplossing is om die kapasiteit van die substasie te vergroot, maar Eskom is steeds nie geneë daartoe nie tensy die munisipaliteit sy totale uitstaande rekening vereffen, hoewel die munisipaliteit sy betalingsooreenkoms met Eskom nakom.
Eskom vereis onverbiddelik dat die munisipaliteit se totale uitstaande bedrag ten volle betaal word voordat daar enigsins onderhandel kan word oor die kapasiteitsverhoging by sy substasie. Die houding verplig die munisipaliteit om beurtkrag toe te pas om te keer dat Eskom se substasie oorlaai word, soos wat ‘n tyd gelede gebeur het toe Parys vir etlike dae in die donker gelaat is.
Na rdl. Van der Merwe se skrywe verlede week in mediaberigte aangehaal is, het Eskom teruggekap en gesê dat die kragreus soos in die verlede al sy verpligtinge ten opsigte van kragvoorsiening aan Ngwathe nakom, maar intussen kon daar nog geen oplossing tussen Eskom en die munispaliteit bereik word oor verhoging van die gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening nie.
Maandag se samesprekings tussen senior bestuur van Ngwathe, die Ngwathe Eskom-taakspan, Eskom en provinsiale verteenwoordigers, het weer eens in ’n doodloopstraat beland.
‘n Opvolgvergadering word nou môre, 16 Julie gehou, waarby ook die Vrystaatse tesourie, Department of Cooperative Governance and Traditional Affairs (COGTA) en SALGA betrek sal word in ‘n poging om voorstelle op die tafel te kry wat vir beide Eskom en Ngwathe werkbaar sal wees.



