
Stigterslede van Parys Sakeliga loods op 12 November die organisasie se #myParys-veldtog. Dié veldtog sal die eerste stap wees in dié Sakeliga se strategie om Parysenaars te verenig om betrokke te raak by die gemeenskapsaksies van die organisasie. Die veldtog staan op drie inisiatiewe – om Parys te bou, te bind en te beskerm. Suleen Peens, die eienaar van ‘n biokinetika-praktyk op die dorp, verduidelik dat met die bou-inisiatief die Parys Sakeliga vooruitgang, groei en struktuur beoog. “Deur die #myParys-veldtog wil die organisasie ’n sterk sakekamer bou en in samewerking met die inwoners van Parys kapasiteit in die gemeenskap bou om effektiewe weerstand te bied teen ’n onsimpatieke en onbetrokke munisipaliteit,” sê sy. Met die bind-inisiatief, sê Robert Thompson, plaaslike sakeman en makelaar, wil die Sakeliga die sakegemeenskap help om te skakel, te koppel en te versterk deur netwerk geleenthede te skep en besigheid- tot-besigheid skakeling te bewerkstellig om samewerking tussen besighede in Parys te verseker.
“Deur ons affiliasie met Sakeliga nasionaal en die gebruik van hulle Sakepleinplatform sal ons doeltreffende meganismes vir skakeling kan bewerkstellig en met ander sakekamers landwyd kan kommunikeer.” “Bind is om seker te maak ons staan saam en #myParys en Parys Sakeliga sal die knooppunt wees om Parys se besighede en inwoners saam te bind tot voordeel van ons dorp,” voeg Thompson by. Die beskerm-inisiatief is om standpunt in te neem en te organiseer.

“Die gedagte met die veldtog is om verval te stop, swak dienslewering aan te spreek en infrastruktuur uitdagings te pak,” het Bernard Nel, ook ‘n plaaslike sakeman en inwoner van die dorp, oor die veldtog uitgebrei. Die bestuurslede van die Parys Sakeliga glo die gemeenskap van Parys is reg om aksie te neem. Die #myParys-veldtog word tydens die Parys Sakeliga se amptelike opening, Donderdag, 12 November om 18:30 in die konferensiesaal van die AfriDome, geloods. Die Parys Sakeliga nooi die gemeenskap om saam te kom bou aan ‘n plan vir Parys en om by die organisasie aan te sluit.




