George Thokgoane, eienaar van George Funeral Services, is Donderdag 9 September, in die ouderdom van 68 jaar aan ’n hartaanval oorlede. Sy skielike dood laat ’n groot leemte nie net vir sy familie en die gemeenskap van Schonkenville nie, maar ook in die hele Parys. George was bekend vir sy vriendelike geaardheid en oop hart waarmee hy altyd na ander uitgereik het.
Hy is hier gebore en het na skool eers by die destydse Arwa-fabriek gewerk, voordat hy ’n pos by Ellerines aanvaar het. In 1989 begin hy sy begrafnisonderneming, George Funeral Services.
Hy was tot met sy dood nog gesond en naas die begrafnisonderneming, ook baie nou betrokke by die Schonkenville NG gemeente as hoofouderling. Sy seun, Elmo, sal met die onderneming voortgaan.
George word oorleef deur sy vrou, Elma, met wie hy 48 jaar getroud was, sy drie dogters en seun en 12 kleinkinders. Sy heengaan word diep betreur.




