News

Die DBV het jou ondersteuning nodig

Die DBV het jou ondersteuning nodig

 

’n Baie gesellige formele ete ten bate van die plaaslike DBV-tak, is die naweek by The Place Guesthouse gehou. Die heerlike aand met musiek, vermaak en ook ‘n veiling van ‘n Daniel Steyl skildery, is deur die gaste geniet en goed ondersteun. Selfs ‘n paar Johannesburgse vroue wat vir die naweek ingeboek was in die gastehuis, het van die funksie te hore gekom en al hul planne vir die aand gekanselleer om die fondsinsameling te ondersteun.
Projekte soos hierdie help die DBV om finansieel te kan oorleef. Die DBV het ook jou ondersteuning nodig om die werk te kan doen in die gebied wat hulle bedien wat baie wyd strek.
As jy kan help met hondekos – veral kos vir baba hondjies, of skoonmaakmiddels soos Hand Cleaner, Sta Soft, asyn of waspoeier om die hokke en beddegoed van die diere skoon te hou, kan jy die produkte by die DBV of die SPCA Charity Shop in Philipstraat afgee.
Jy kan ook die Charity Shop ondersteun waar jy alles en nog wat kan koop teen ‘n winskopie. Die Charity Shop se inkomste is ook ten bate van die DBV.
As jy nie finansieel kan bydra nie, kan jy dalk jou tyd en vaardighede aanbied om die DBV te help. So moet daar byvoorbeeld nog deure vervang word wat met die laaste inbraak by die DBV perseel beskadig is.

 

Dankie vir elkeen wie se harte en hande oop is vir die DBV. Foto’s: Verskaf

Onthou egter dat weens die huidige beperkings van Covid-19 geen vrywilligers tans toegelaat kan word om by die DBV te help nie.
Maak gerus ook gebruik van die DBV se losiesfasiliteite, sou jy met vakansie of vir ‘n naweek weggaan en nie iemand het om na jou troeteldiere om te sien nie. Vir so min as R85 per dag per dier, word daar na jou viervoet vriend omgesien, vertroetel en mee gespeel.
En onthou wanneer jy wel ‘n klagte oor die perdekarretjies by die DBV aanmeld, is dit baie belangrik dat jy ‘n foto van die karretjie sal probeer neem omdat daar verskeie perdekarre in die dorp is. As jy ’n rondloperdier aan die DBV rapporteer, is dit ook raadsaam om die dier in jou erf te hou totdat die DBV die dier kan kom haal omdat die DBV net een voertuig het en daar nie altyd onmiddellik op alle klagtes gereageer kan word nie. Die DBV se noodnommer is 072 894 4061.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button