
Parys se eie kunste-akademie, Gaudium Artes, hou op 20 Januarie van 17:00 tot 18:00 ‘n ope-aand in die skoolsaal van Hoërskool Parys. Die doel van die ope-aand is om die verskillende kursusse en die dosente wat dit aanbied, bekend te stel. Tydens dié geleentheid kan voornemende studente en belangstellendes met die dosente gesels en meer inligting bekom. Gaudium Artes bied klasse in kuns, drama, klavier, kitaar, sang, viool, tjello, blokfluit en tromme aan. Sommige klasse is reeds vol vir die jaar, maar voornemende studente kan op ‘n waglys geplaas word. Klasse begin Maandag, 31 Januarie. Alle ouderdomme is welkom!
Ten spyte van ‘n moeilike Covid-jaar, het die studente van Gaudium Artes in 2021 tog blootstelling gekry en pragtig presteer. ‘n Kunsstudent van Gaudium Artes, Deandré Pieterse, het aan die FAK se Afrikaans Ekspo deelgeneem en nasionaal ‘n derde plek behaal. Twee van die tromstudente, Jadon en Rudo Smit, het uistekend gevaar in ‘n nasionale kompetisie. Verskeie studente wat aan die kunstefees van Parys Primêr deelgeneem het, het puik presteer in klavier, voordrag en kuns. Vir meer inligting, skakel Sanci Cilliers by 082 929 8593, Marli Kruger by 082 498 0117 of stuur ‘n e-pos aan gaudium.artes@gmail.com.



