En daar vlieg die ‘hoender’ toe amper met die geld
Hulle soek toe nie die hoender nie, net jou geld

As klaar voorbereide etes jou brood en botter is, sal die meeste van ons nie twee keer dink om ja te sê as jy ‘n oproep kry om 50 gekookte etes voor te berei vir ‘n groot skole-atletiekbyeenkoms.
Die instruksies was maklik, dit is vir departement gesondheid, hoender met rys. Hulle sou die kos kom oplaai wat in wegneemete houers verpak moes word. Teen R150 per kop sou dit ‘n baie welkome R7 500 in die sak wees, wat boonop met die bestelling in ‘n vrou van Parys se rekening inbetaal sou word. Sy moes net die bankbesonderhede stuur sodat die elektroniese oorplasing vooraf gedoen kan word. Vir makliker kan jy nie vra nie – geen gesukkel agterna om jou geld te kry nie.

Maar moenie glo nie!!!! Hier’s die vangplek. Toe kom die sms dat R19 500 in haar rekening inbetaal is. Per ongeluk – ‘n vingerfoutjie. Toe sy skakel om te sê daar is volgens die SMS te veel oorbetaal in haar rekening, is die versoek dat sy net die verskil na ‘n Capitec rekening moet oorbetaal.
Die vrou het twee en twee bymekaar getel en dadelik besef hier’s ‘n bedrog slang in die gras, en dat sy nie geld na ‘n ander rekening kan oorplaas nie, slegs na die Absa rekening waaruit die geld oorspronklik oorgeplaas is. Nog was dit einde niet. Weer kry sy ‘n oproep om te vra – wat is haar probleem – dit is die geld van die bus, betaal moet sy oorbetaal. Nodeloos om te sê dat sy gelukkig seker gemaak het en kon sien dat geen bloue duit in haar rekening inbetaal is nie. Sy het die astrante vent vertel sy gaan onmiddellik die saak by die polisie rapporteer. Die vent was nie afgeskrik deur haar woorde dat sy polisie toe gaan nie.
Toe die nommer in die polisiestasie geskakel is, het hy selfs oor die foon gesê sy kan maar polisie toe gaan en die foon neergegooi. Danksy haar wakker optrede het sy nie ‘n sent verloor nie en haarself die verdriet van die 50 gekookte etes sonder betaling gespaar. Wees maar versigtig vir allerhande slim praatjies.
Skelms is gewetenloos en is maar ewe bewus van moeilike ekonomiese tye en mense se desperaatheid om geld te maak om te kan oorleef. Jy kan nie geld net oorbetaal aan iemand wie jy nie ken nie.
Moenie alles glo wat jy hoor nie, en maak maar eers goed seker wat in jou bankrekening aangaan voordat jy val vir die slenter van geld oorbetaal of terugbetaal. Jy kan maar weet as jy hiervoor geval het is dit die laaste sien van jou swaarverdiende geld en iemand anders sit met die hoender en rys op sy bord.



