Krane gereeld droog in vier Ngwathe dorpe
Vier van die vyf Ngwathe dorpe (Parys, Vredefort, Koppies en Edenville), gaan steeds gebuk onder ernstige watertekorte, en kan nie op betroubare lopende water staatmaak nie. Suiweringsaanlegte is te klein en swak onderhou, en beurtkrag vererger die funksionering van dié aanlegte.
Edenville se boorgate het opgedroog, en word ‘n peperduur pypleiding nou teen ‘n koste van R103 miljoen vanaf die Koppies watersuiweringsaanleg na Edenville gebou. Tog kan Koppies se eie suiweringsaanleg beswaarlik tans aan die dorp se eie watervraag voorsien.
Koppies is aan die oewer van die Renosterrivier, maar het soos Parys al vir maande lank knaende waterprobleme, sê die DA se koukusleier, Carina Serfontein.
Serfontein, vergesel deur Saal de Jager, lid van Ngwathe se infrastruktuurkomitee en ook ‘n DA-raadslid, het met ‘n oorsigbesoek aan Koppies se watersuiweringsaanleg verlede week, gevind dat ‘n deel van die aanleg Maandag, 3 April nie in gebruik was nie. ‘n Presipiteerdam en vertragingskanale was leeg, en daar was net ‘n kwartvol reserwe drom chemikalieë.
Die perseel is toegegroei en onnet, wat ‘n deeglike oorsig bemoelik het, maar tekens van onvoldoende instandhouding en swak prosesbeheer kan duidelik gesien word, was hul bevinding.

Serfontein wat watervoorsiening daagliks in verskillende woongebiede in Koppies en Kwakwatsi monitor, sê Koppies was sedert Donderdag, 6 April sonder ‘n druppel water, oënskynlik as gevolg van ‘n fout in die doseerpompe wat Saterdag eers reggestel kon word.
Omdat daar nie afsluitkleppe is nie, moet die dorp se totale watervoorsieningsnetwerk toegedraai word, telkens wanneer ‘n water- lek herstel moet word. Die kleppe is gesteel, en nie weer vervang nie.
Serfontein sê groot hoeveelhede water gaan verlore omdat waterlekke nie die nodige en dringende aandag kry nie. Hoewel daar van tyd tot tyd instandhoudingswerk by die aanleg gedoen word, is dit ‘krisisbestuur’ en nie pro-aktiewe optrede nie.
Met die suiweringsaanleg wat nie meer voldoende kan voorsien in die waterbehoefte van Koppies en Kwakwatsi se inwoners nie, gebeur dit dat die netwerk ‘toegedraai’ word wanneer opgaardamme leeg is, en gevolglik sit inwoners elke aand sonder water, het Serfontein aan Gazette gesê. Ook deur die dag is krane onvoorsiens droog, sê sy.
Hoewel waterbeperkings vir die dorp in die verlede ingestel was, is die situasie nou eens so erg, met nog geen vooruitsig vir wanneer die dorp se suiweringsaanleg opgegradeer sal word nie, is gesê.
Sy sê watersuiwering word ook ernstig geaffekteer deur Eskom beurtkrag omdat die noodkragopwekker by die Koppies-aanleg nie kan verseker dat pompe aanhou werk tydens kragonderbrekings nie, omdat dit eenvoudig té duur is om ure aaneen te laat loop.
Raadslid De Jager het benadruk dat die pyplyn wat na Edenville gebou word, problematies sal wees omdat Edenville nie vir sy water kan staatmaak op ‘n aanleg wat nie eens vir Koppies betroubaar water kan voorsien nie.
Serfontein en De Jager sê die DA sal vrae vra en aandring op antwoorde by die infrastruktuur-komitee en die Raad se finanskomitee na aanleiding van die oorsigbesoek. Hulle sê die waterkrisis kan opgelos word mits daar beplanning en doeltreffende bestuur van die aanleg is om vir mense water te gee, wat ‘n basiese reg is.
Die DA raadslede sê hulle sal aandring dat die waterkrisis op plaaslike regeringsvlak hanteer word as antwoorde nie gekry word vir ‘n langtermyn plan om die situasie om te keer nie.
Heilbron wat gedurende Maart ernstige watertekorte gehad het, se waterprobleme was die afgelope week aansienlik beter nadat Rand Water wat die dorp van water voorsien, uiteindelik vasgestel het dat ‘n ge- steelde kabel by een van sy waterpompe, die watertekort in Heilbron veroorsaak het.
Met die probleem nou reggestel, ontvang die dorp egter steeds net 8ml van die 12ml kapasiteit van die waterpyplyn, en sou die Ngwathe bestuur op 31 Maart met Rand Water vergader het om die kwessie te bespreek. Die samesprekings moes egter uitgestel word, en is ‘n nuwe datum nog nie bekend nie.
Rand Water het wel in ‘n vroeëre skrywe op 14 Maart aan die Ngwathe burgemeester, aangedui dat knaende kragonderbrekings watervoorsiening ernstig beïnvloed.
Rand Water se Ramateu Monyokolo het in die brief gesê dat benewens die ure sonder krag, dit baie tyd neem om die aanlegte ge-reed te kry vir produksie sodra kragtoevoer herstel word.
Hy skryf vir elke uur sonder krag het Rand Water 2-3 uur hersteltyd nodig by aanlegte voordat die aanlegte weer in produksie is.
Net soos in Parys, is daar al ‘n geruime tyd groot ongelukkigheid in Vredefort en die Mokwallo-woonbuurt oor die Ngwathe munisipaliteit se onvermoë om genoeg en ononderbroke water aan al die inwoners van die dorp te kan lewer.
Daar is veral fel kritiek oor die geld wat spandeer is vir werk by die suiweringsaanleg, maar wat nie die kapasiteit van die aanleg vergroot het nie Ten spyte van verskeie probleme wat in 2022 deur die Raad se infrastruktuurkomitee uitgewys is, is die kontrakteur ten volle betaal.
Parys het ten spyte van beloftes vir noodkragvoorsiening by sy suiweringsaanleg steeds nie ‘n noodkragopwekker nie. Kragonderbrekings naas die talle probleme by die suiweringsaanleg en herstel wat nog maande kan duur, bring mee dat daar skrale hoop is dat die dorp gou ‘n einde kan sien aan die knaende watervoorsieningsprobleme.
Tydens die weeklikse opvolgvergadering tussen die munisipaliteit, rolspelers en die gemeenskap, is op 21 Maart erken dat die waterbeurtskedule wat onlangs deur die munisipaliteit beskikbaar gestel is, nie sin maak nie, sê die drukgroep, Save Ngwathe in ‘n skrywe aan sy lede.
Daar is tydens verlede week se vergade- ring opdrag gegee dat ‘n meer werkbare skedule opgestel moet word vir goed- keuring deur die waarnemende munisipale bestuurder.
Save Ngwathe sê in sy verslag oor die vergadering dat hoewel aan die suiweringsaanleg aandag gegee word, probleme nie binne weke of selfs maande oornag sal verdwyn nie.
Die organisasie sê uit departement waterwese en sanitasie se verslag oor vordering by die suiweringsaanleg in Parys, is dit duidelik dat die herstelproses ongeveer ‘n jaar kan duur en dat verbetering oor die volgende twaalf maande stelselmatig gesien sal word.
Die burgemeester se kantoor het by navraag oor ‘n tydsraamwerk vir herstel by Parys se suiweringsaanleg, en die beskikbaar stel van ‘n nuwe waterbeurtskedule aangedui dat antwoorde hierop eers gegee kan word sodra ‘n verklaring uitgereik is.
Die raad se infrastruktuurkomitee sou wel Donderdag vir die eerste keer weer sit, het raadslede aan Gazette bevestig.




