Nog ’n kop in Lichtenburg afgekap
Hierdie voorval vorm deel van ’n groeiende lys historiese bakens wat oor jare heen beskadig, geplunder of vernietig is.
Die kop van die burgerfiguur op die Anglo-Boereoorlog-monument op Lichtenburg se dorpsplein
is die afgelope deur vandale verwyder. Volgens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge vorm dié jongste daad van vandalisme deel van ’n jarelange patroon van verwaarlosing, diefstal, brandstigting en beskadiging van historiese bakens in Lichtenburg.
Die organisasie het inwoners, besighede, erfenisliefhebbers en oud-Lichtenburgers gevra om ’n petisie te teken en deel te word van ’n georganiseerde gemeenskapsaksie om die Ditsobotla Plaaslike
Munisipaliteit te kry om sy beloftes vir erfenisbewaring en -beskerming na te kom.

die kop afgekap is. (Foto: Ds Riaan Jansen van Vuuren)

Lichtenburg se dorpsplein is onlangs afgekap, die jongste in ’n reeks aanvalle
op die dorp se erfenis. (Foto: Ds Riaan Jansen van Vuuren)
Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte. sê die FAK is reeds jare lank in gesprek met die munisipaliteit oor die toestand van die erfenisbakens in die gemeenskap. Tydens ‘n onlangse gesprek op 1 April 2025 is die toestand van verskeie bakens, waaronder die De la Rey-ruiterstandbeeld en die Afrikaanse Taalmonument, met die munisipaliteit bespreek, het Müller gesê.
Die FAK sê hy probeer reeds sowat vyf jaar lank om die munisipaliteit te oorreed om daadwerklike maatreëls vir die beskerming en instandhouding van die dorp se erfenis te implementeer.
Die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum is in Oktober 2023 deur ’n brand verwoes, terwyl die stadsaal kort daarna dieselfde lot getref het. Die landboumuseum is veral gedurende 2024 herhaaldelik geteiken, met historiese voorwerpe en materiaal wat gesteel is. ’n Lokomotief op die terrein is boonop deur brand vernietig.

(Foto: FAK-argief)
Die FAK het destyds ook ingetree om oorblywende erfenismateriaalte red.
Die kop van generaal Koos de la Rey se borsbeeld op sy graf is in 2021 afgekap.
Nadat die monument herstel is, is die vervangingskop volgens die FAK in 2025 weer deur vandale afgekap. Op die dorpsplein is die bekende brons-ruiterstandbeeld van generaal De la Rey eweneens gevandaliseer toe ’n deel van die sweep afgesaag en
gesteel is.
Die Afrikaanse Taalmonument op die dorp is beskadig nadat onder meer letters en die biddende hande gesteel is.
Die 1938-Eeufeesmonument is ook reeds erg gevandaliseer.
Hierdie voorvalle vorm deel van ’n groeiende lys historiese bakens wat oor jare heen beskadig, geplunder of vernietig is.
Petisie
Volgens Müller is die doel van die petisie nie bloot om nóg ’n lys handtekeninge saam te stel nie, maar om ’n gemeenskap te mobiliseer wat bereid is om prakties by die oplossing betrokke te raak. “Ons wil mense die geleentheid gee om ’n verskil te maak.
Jy hoef nie in Lichtenburg te woon om betrokke te wees nie. Jy kan die petisie teken, jou vaardighede aanbied, finansiële ondersteuning gee, as vrywilliger inspring of jou besigheid se hulp
beskikbaar stel.
“Die boodskap moet duidelik wees: Hierdie erfenis behoort aan die gemeenskap, en ons gaan saam verantwoordelikheid neem om dit te help bewaar.”
Lede van die publiek kan die petisie teken, die veldtog met ander deel en registreer om by toekomstige gemeenskapsaksies betrokke te raak. Hierdie vorm die eerste stap van die erfenis-inisiatief.
“Met voldoende openbare steun kan betekenisvolle druk uitgeoefen word om daadwerklike optrede af te dwing. Ons sien ook ’n rol vir mense wat prakties wil help deur hul tyd, kundigheid, materiaal, dienste, sekuriteit, bemarking of finansiële ondersteuning beskikbaar te stel,” sê Müller.
Die petisie is beskikbaar by https://redmyerfenis.co.za/
Munisipaliteit se samewerking gevra
Die FAK vra dat die munisipaliteit sy verantwoordelikhede ingevolge toepaslike erfeniswetgewing nakom en dringend sal aandui watter konkrete stappe geneem gaan word om die oorblywende erfenisbakens te beskerm. Die organisasie vra verder dat, indien die munisipaliteit nie oor die nodige kapasiteit, hulpbronne of vermoë beskik om bepaalde erfenisbates behoorlik te beskerm nie, ’n wettige proses oorweeg word waardeur dié bates aan ’n bevoegde erfenisbewaringsinstansie oorgedra of onder toepaslike veilige bewaring geplaas kan word.
Die De la Rey-ruiterstandbeeld, is bykans die enigste prominente baken is wat nog nie ernsige skade opgedoen het nie Die FAK het reeds aangebied om saam met die munisipaliteit en toepaslike erfenisowerhede na ’n wettige en praktiese oplossing vir die bewaring daarvan te soek.
Die organisasie beklemtoon dat dit nie bloot oor een monument gaan nie. Dit gaan oor die vraag of toekomstige geslagte steeds toegang sal hê tot die fisiese plekke en monumente wat Lichtenburg se geskiedenis vertel.



