Word ‘n Vriend van Gideons
As jy 'n lid of Vriend van Gideons wil word, skakel (012) 460 7241 gedurende kantoorure, of besoek die webtuiste www.gideons.co.za vir meer inligting of om 'n donasie te maak.

Die Gideons Internasionaal in Suid-Afrika van die Parys/Vredefortlaers het verlede week ‘n Vriende van Gideons en nuwe lede geselligheid by die Parys Golf en Country Estate gehou. Die fokus van die aand was om ook jonger mense bekend te stel aan wat Die Gideons doen. Een en dertig mense het die geleentheid bygewoon waartydens Bybels aan die personeel van die restaurant oorhandig is.
Die nasionale kapelaan van Die Gideons, Gerdus Wilcocks, was die spreker by die geselligheid.
Hy het onder meer uitgebrei oor wat dit behels om ‘n lid of ‘n Vriend van Gideons te wees. Die fokus van sy boodskap was Die Gideons se roeping om siele vir die koninkryk van God te wen, en die Woord te versprei.
Die Gideons is ‘n internasionale vereniging van Christene wat regoor die wêreld volledige Bybels, Nuwe Testamente of gedeeltes daarvan versprei.
Die beweging het in 1899 begin met slegs drie lede. Vandag word die Bybel in meer as 109 tale gedruk, en help Die Gideons om Bybels aan individue te gee, of te plaas by plekke waar groot getalle mense beweeg, soos in hotelle, gastehuise ens.
Daar is vele getuienisse van hoe hierdie klein Gideons-Bybel wat op ‘n dag by ‘n skool uitgedeel is aan graad 8-leerders, of iewers in ‘n hotelkamer opgetel is, lewens geraak en verander het. Vir baie dalk ‘n eerste kennismaking met die Bybel. Kyk gerus na hierdie getuienis: https://youtu.be/a6uOCsqG-4E
Die Parys/Vredefortlaers het tans 13 lede, maar het die beweging in Suid-Afrika nagenoeg 2 400 lede – almal professionele mense en sakelui bygestaan deur hul vrouens, wat hierdie roeping vervul. Die Gideons het egter ook ‘n Vriende-inisiatief bekend- gestel waarby mense betrokke kan raak by die vereniging, sonder om direk by laers ingeskakel te wees. Vriende van Gideons ontvang ook die nuusbriewe en inligting van Die Gideons wat jy weer op jou beurt aan jou vriendekring kan versprei.

Marius Pieters, president van die Gideons Parys/Vredefortlaer, oorhandig hier die Nuwe Testament en Psalms aan personeel van die restaurant op die Parys Golf & Country Estate tydens die Vriende van die Gideons en nuwe lede geselligheid wat verlede week hier gehou is.
Daar is ook Vriende van Gideons-Bybels wat jy as Vriend kan uitgee sou jy weet van iemand wat nie ‘n Bybel het nie.
Dit neem slegs 2 minute van jou tyd om die aanlynvorm te voltooi om ‘n Vriend van Gideons te word waarmee jy ook op hierdie manier Die Gideons kan ondersteun, hetsy finansieël, of om ook waar jy beweeg die Woord te versprei.
As jy ‘n lid of Vriend van Gideons wil word, skakel (012) 460 7241 gedurende kantoorure, of besoek die webtuiste www.gideons.co.za vir meer inligting of om ‘n donasie te maak.




