Laatkommers by Ngwathe-kantore vandeesweek vasgevat
Raadslede met wie Gazette gepraat het, het gesê dat hulle Maandagaand van die aksie te hore gekom het nadat die verklaring op sosiale media geplaas het.

Daar is die week ‘n skielike en onverwagse stokkie gesteek voor munisipale werknemers se laatkommery. Laatkommers is Maandag toegang tot die munisipale kantore geweier as tydelike maatreël wat later die dag in ‘n verklaring deur die kantoor van Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, beskryf is as ‘beslissende optrede’ en ‘n ‘dringende maatreël in reaksie op aanhoudende uitdagings wat verband hou met traagheid, afwesigheid en voortydige vertrek van die werksplek.’
Die burgemeeter se kantoor sê die munisipaliteit worstel met ‘n beduidende kwessie van nie-nakoming van werkskedules wat die doeltreffendheid en funksionaliteit van dienste in elkeen van die Ngwathe dorpe nadelig beïnvloed.
Die verklaring sê verder die doel van die tydelike maatreël is om ‘n gevoel van verantwoordelikheid en toewyding tot plig onder die werksmag te vestig.
Daar is ook verduidelik dat die inisiatief nie bedoel is om toegewyde werknemers te penaliseer nie, maar eerder as katalisator vir positiewe verandering.
Alle veldwerkers is volgens die verklaring in kennis gestel dat dieselfde vlak van erns toegepas sal word om dissipline en doeltreffendheid onder die groep te verseker.
Die burgemeester se kantoor het gesê dat die munisipalitit verbind is tot ‘n deeglike hersiening van interne prosesse, en die implementing van ‘nodige maatreëls’ om algehele prestasie te verbeter.
Die samewerking van alle munisipale werkers is gevra terwyl die tydelike toegangsweiering toegepas is, en inwoners bedank vir hul begrip terwyl ‘gewerk word daaraan om ‘n meer effektiewe en betroubare munsipale diens te skep.”
Die burgemeester het Woensdagoggend op navraag van die Gazette gesê dat die laatkommery gemonitor word by munisipale kantore in al die Ngwathe dorpe, en dat laatkommers moet teken dat hul laat was, en ‘n waarskuwing ontvang.
Raadslede met wie Gazette gepraat het, het gesê dat hulle Maandagaand van die aksie te hore gekom het nadat die verklaring op sosiale media geplaas het.



