Skuldig edelagbare aan ‘n weldaad
Dankie aan elkeen wat vanjaar bygedra het tot die rekord fonds-insameling en op dié manier 'n verskil gemaak het.

Daar was Saterdag min genade voor dié regbank, want skuldig was hulle skuldig – en dit vir ‘n goeie saak.
Soos elke jaar het dié prettige ‘Boete, Boei en Betaal-fondsinsamelingsprojek’ van Vrystaat Versorging in Aksie weer die lagspiere in oefening gehou vir die kwinkslae wat agter die tralies en voor die regbank gehoor is.
Die projek help jaarliks om die finansiële druk op VVA Parys te verlig met ‘n gemeenskap se harte en beursies wat oop is vir die nood van ander.
Sommige van die 42 ‘aangeklaagdes’ het vooraf hul boetes betaal, maar daar was ook vyftien van die dapperes wat vir die pret self hul saak kom stel het voor die ‘edeldierbare’ landdros, Janene Roussouw.


Vir sommige was die skuldgevoel en boeie egter een té veel en het hulle hulself vrywillig kom oorgee.
Sonder voorvalle was die oggend ook nie, met die ‘aanklaer’ wat betrokke was by ‘n gewaagde ontsnapping.

Die aangehoudenes was rdl. Marinda Matthysen-Engelbrecht, Anneke van Anna Patat, Amanda Botes van Cheers, Francois van Jimmys, Joanne Boonzaier, Lea Heunis, Sonja van Rhyn, Melanie, en Johan Taljaard.



