85-Jarige André trap agt goues los
Hy het ook 'n rekordtyd opgestel wat nie maklik geëwenaar sal word nie.
Die 85-jarige André Joubert van Parys het by vanjaar se SA Baanfietskampioenskappe op die Westbourne Oval baan in Port Elizabeth nie minder nie as agt goue medaljes losgetrap.

Wat sy prestasie meer besonders maak, is dat hy die oudste deelnemer aan die byeenkoms in die ouderdomskategorie 85+ was. Die tweede oudste deelnemer was 70 jaar oud.
Die baan waar die SA Baanfietskampioenskappe gehou is, was dieselfde baan waarop André in die vyftigerjare die eerste keer aan baanfietsbyeenkomste begin deelneem het.
André het goud verower in al agt wedrenne waaraan hy deelgeneem het. Hy het ook ‘n rekordtyd opgestel wat nie maklik geëwenaar sal word nie.
‘n Baie besondere rekord wat vir die eerste keer opgestel is, en wat hy saam met Gerrit Scheepers en Walter Thornhill opgestel het in die 750 m drieman snelrit.

Wat dit besonders maak is dat die rekord opgestel is vir die ouderdomsgroep 65-69 jaar, terwyl net Gerrit in die kategorie deelneem.
Walter Thornhill is in die ouderdomsgroep 70-74 en Andre in die ouderdomsgroep 85+.
Andre het reeds begin voorberei vir die 2025 baanfietskampioenskappe wat heel waarskynlik op die Velodrome in Kaapstad sal plaasvind.



