Local newsNews

14-Jarige skryf finalis-plek los

Meer as 100 inskrywings is vir die twee kategorieë van die kompetisie ontvang.

Karisa Nortman (14), ‘n graad 9-leerder van die Hoërskool Parys het nie gedink dat haar meermin-fantasieverhaal vir haar nuwe deure sou oopmaak nie.
Dit het haar as debuutskrywer onder die top 10 inskrywings in die jeugverhaal kategorie vir lesers 8-12 jaar in NB Uitgewers se landwye Jeugverhaal-kompetisie vir 2023 geplaas.

Meer as 100 inskrywings is vir die twee kategorieë van die kompetisie ontvang. Die ander kategorie waarvoor ingeskryf kon word was vir verhale vir tiener of jong volwassenes ouer as 13 jaar.

Karisa vertel dat sy gedurende Covid-tyd so tussendeur haar af-periodes aan die einde van haar graad 6 jaar begin skryf het. Soos wat sy die hoofstukke voltooi het, het sy week na week dit op hul familie WhatsApp groep voorgelees, en almal was mal daaroor, vertel sy skaam-skaam.

Eintlik het sy nog altyd stories geskryf en dit gelees – sommer vir haar ma-hulle en haar ouma-hulle, vertel sy .

In graad 5 het sy die eerste keer probeer om ‘n boek te skryf, maar halfpad deur die skrywery was sy nie tevrede met die storielyn nie, en het sy die idee laat vaar. Die storie wat sy toe geskryf het was oor ‘n meisie wat toevallig ‘n glasbal met towerkragte in ‘n winkel ontdek het.

Toe sy in graad 6 weer haar hand aan die skryfkuns waag, het sy geskryf oor ‘n meisie wat in ‘n meermin verander het, en haar vriendskap met twee vriendinne.

Sy het ‘n jaar lank aan die boek geskryf, maar dit het in ‘n bedkassie se laai bly lê. Tot die dag wat haar ma, Minette, die kompetisie op Facebook raakgelees het.

Toe hul haar inskrywing moes instuur het die internet gehaak, en het Karissa net-net die spertyd gehaal toe Minette inderhaas van die plaas af dorp toe moes ry om die inskrywing te kon e-pos.

Die kompetisie-prysgeld is R50 000 vir die wen-kinder-verhaal, en R50 000 vir die wen jongvolwasse- of tienerverhaal. Die wenners van die twee kategorieë se manuskripte sal ook gepubliseer word, en behou die uitgewer die eerste opsie om enige van die ander inskrywings te publiseer. “Sou dit gebeur, sal ek nogal trots wees,” gesels Karisa.

Naas verskeie debuutskrywers is daar ook groot skrywersname soos Fanie Viljoen onder die finaliste. Fanie is ‘n finalis in die afdeling vir verhale vir tiener of jong volwassenes. Karisa vertel dat sy self ‘n boekwurm is wat graag Fanie en Jaco Jacobs se boeke lees. Jaco was ook een van die beoordelaars in die kategorie waarvoor Karisa ingeskryf het.

Deesdae is daar min tyd vir skryf, sê Karisa, want behalwe vir skoolwerk wat haar besig hou, is die jong skrywer, ook ‘n talentvolle ruiter wat al die Fauresmith-uithourit aangepak het, ‘n kranige atleet, en boonop ‘n uitblinker op die netbalbaan. Dan doen sy ook nog redenaars en dramaklasse.

Die beoordelaars sal nou deur al die manuskripte lees en einde Augustus met die skrywers kommunikeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button