Die liggaam van ‘n munisipale werknemer van die Moqhaka munisipaliteit is vanoggend gekry nadat sy motor Sondag 7 April deur vloedwater meegesleur is op ‘n brug naby Bester in Maokeng.
‘n Vlak 4 waarskuwing vir swaar reën is vroeër vanoggend uitgereik vir vandag en môre, Dinsdag 9 April en geld vir die Dihlabeng, Kgetlengrivier, Madibeng, Mafube, Maluti a Phofung, Metsimaholo, Moretele, Moses Kotane, Ngwathe, Nketoane, Phumelela, Ramotshere Moiloa, Rustenburg en Ventersdorp munisipale gebiede.
Reën van meer as 20-50mm is oor die laaste 24 uur oor die oostelike dele van Noordwes gerapporteer en nog reën word vandag en môre verwag.
Swaar reën het gister, Sondag 7 April, ook in die Kroonstad-omgewing geval en chaos op onder meer die N1 naby Kroonstad en die R34 veroorsaak. Dié foto’s is Sondagmiddag geneem.




‘n Brandweerwa van die Kroonstadse munisipaliteit wat onder meer onder water was na die swaar reën. Foto’s: Verskaf
Die R34 tussen Kroonstad en Welkom is om 12:14 vanmiddag oopgemaak vir verkeer, maar hou in gedagte dat die situasie mag verander afhangende van die weerstoestande.



