Honderd parkrun-mylpaal vir Abé
Abé se geweldige ondersteuningsnetwerk van Elize, vriende, familie, en natuurlik die Egweni River Lodge parkrun, maak Saterdagoggende een van die hoogtepunte in sy en Elize se lewens,

Op ‘n dag vertel ‘n goeie vriendin vir Abé Kempen en sy vrou, Elize van die parkrun wat elke Saterdag in Parys plaasvind, kort nadat die Kempens in Januarie 2016 van Vanderbijlpark na Parys verhuis het om Sally Martin Park hul nuwe tuiste te maak. En net daar byt die parkrun-gogga, en het Abé onlangs sy 100ste parkrun voltooi.
Met hul hele gesin wat atlete was, (en nog steeds is), en gewoond is aan vroeg opstaan en wedlope doen, was dit maklik en heerlik om elke Saterdagoggend deel van die Parkrun-familie te word, vertel hy. “Persoonlik glo ek aan ‘n gesonde lewenswyse en was oefen altyd deel van ons lewe. Noudat ek en my vrou ‘n rustiger lewe lei, kan ons natuurlik enige tyd van die dag en week oefen. Ek ry ook baie graag fiets,” vertel hy.
Op ‘n laat ouderdom in sy lewe het hy die Comrades vir die eerste keer aangepak en drie keer voltooi, asook ‘n paar Twee Oseane marathons. Weens ‘n seldsame beensiekte en ‘n oormaat sport in sy jonger lewe, moes Abé in 2013 ‘n dubbele knievervanging ondergaan wat ‘n stok in die wiel van sy lang padwedlope gesteek het.
Drie jaar gelede is hy ook met blaaskanker gediagnoseer, maar dit het nie sy droom om tot op sy oudag te oefen, in die wiele gery nie, vertel hy.
Sy geweldige ondersteunings-netwerk van Elize, vriende, familie, en natuurlik die Egweni River Lodge parkrun, maak Saterdagoggende een van die hoogtepunte in sy en Elize se lewens, sê hy.

Elize is self op pad na haar 150ste parkrun. Die twee van hulle het al op verskeie plekke in die land parkruns gedoen, en het onder meer Clarens se parkrun baie geniet, maar soos die gesegde lui – Home Sweet Home’ – en daarom bly Parys se parkrun vir hulle die beste.
Hulle is dankbaar teenoor die parkrun direkteure en vrywilligers wat as een groot familie die Egweni parkrun bo aan die lys van parkruns plaas, sê hy.



