Skaapkop en ‘n blinkrooi Ferrari in Parys
Dit was egter nie net die keurig bereide skaapkop wat Donderdag die aandag van die span en die kameras getrek het nie.

Oor jare is Parys onder besoekers aan dié mooi Vrystaatse dorpie bekend vir sy besondere restaurante, winkeltjies soos krale kleurvol geryg langs die dorp se hoofstraat, pragtige antieke meubels, en talentvolle kunstenaars. Maar een ding wat jy seker is om te kry in dié dorp is tradisionele geregte soos uit Ouma se kombuis. Die Headlight Produksiespan van die TV-reeks, Up to Mischief het verlede week ‘n draai in die dorp gemaak vir die verfilming van een van die episodes van die reeks wat vanaf 15 Julie op die DSTV-kanaal 189 sal wys. Nie net word kykers getrakteer met spogmotors in die reeks nie, maar ook met leefstyl insette, want wanneer jy die pad vat om te reis, spog die land met vele restaurante waar jy ‘n unieke koservaring gewaarborg is
Die span het gereis van Sellenbosh waar kos gemaak is saam met bobaas sjef Bertus Basson, tot by Die Strandloper restaurant aan die Weskus. Daar is gestop op Barrydale vir ‘n uitsonderlike melkskommel by Diesel & Creme, en weggelê aan sjampanje en oesters op ‘n seiljag in Knysna.
Daarna is die pad gevat na Gauteng vir uitsonderlike Italiaanse kos by The Italian Job Food Emporium in Bryanston, en weggelê aan fillet met groente by Black Horse in Magaliesburg. Na koffie met gelato by Aroma Coffee Roastery in Hazelwood, Pretoria, was die laaste stop Parys waar gekuier is by Plum Tree Restaurant. Hier kry jy nog skaapkop bedien met groente soos ouma dit meesterlik kon gaarmaak.

Leefstyl sjef en motor entoesias, Izelle Hoffman het met Sandra Uys gesels oor die restaurant met sy unieke dekor en cuisine. Sandra het vertel hoe die restaurant sy ontstaan gehad het, en die spyskaart beplan is met tradisionele geregte met van die gunstelinge uit haar ouma se kombuis wat na jare steeds gewild is onder kliënte.

Baie van die besondere oudhede en dekor kom uit haar huis, of is familie erfstukke waarmee ‘n atmosfeer geskep is waar erfenis en kostradisies mekaar omhels in die hartlikheid van samesyn om ‘n gedekte tafel.
Hoewel dit vir van die produksie spanlede ‘n eerste besoek aan Parys was, is Parys geen onbekende vir kinematograaf, Bekker-Brand Janse van Rensburg. Pieter Pohl, vervaardiger van die reeks, vertel dat Up to Mischief gebore is uit die ervarings in sy eie huis.
As motor entoesias kyk hy graag na motorprogramme, maar deur die leefstyl en gebeure komponent te kombineer met stylvolle motors en reis, skep die reeks, met aanbieder Choccy Chox, ‘n kykervaring wat passies kombineer – smaakvolle kos en mooi motors, want dit bring mense bymekaar, vertel hy.
Parys was die enigste Vrystaatse dorp wat die span vir die reeks besoek het.
Dit was egter nie net die keurig bereide skaapkop wat Donderdag die aandag van die span en die kameras getrek het nie. Buite die restaurant het die blinkrooi Ferrari 599 GTB wat vir die reeks se verfilming in Gauteng en die Vrystaat gebruik is, ook verbygangers se aandag getrek.

Die motor behoort aan Izelle se lewensmaat, Franco Scribante, en is die perfekte kombinasie van elegansie en klas met baie perdekrag, gesels Izelle.

Vir die episodes wat in die Kaap verfilm is, is ‘n ikoniese Z3 BMW gebruik van Mischief Garage in Kaapstad.



