Renjaers kom sit voet in die hoek op dié stofpaaie

Twee dae met byna 800 kilometer se opwindende wedren-aksie is op Parysenaars se voorstoep en iets wat jy beslis nie kan mis nie. Maak seker jy maak volgende naweek 'n draai by Stonehenge.

Twee besige dae wag op die bestuurders, navigators en tegniese span in die FIA Ultimate T1+, Adventurer T1, Challenger en SSV klasse, met die INGCO Parys 400 en INGCO Vaal 400 wat volgende naweek in Parys beslis word.

Motorsport entoesiaste kan regmaak vir topklas ren-aksie wanneer rondte vier en vyf van die SA Rally Raid-kampioenskappe op Vrydag 16 en Saterdag 17 Augustus beslis word. Met die seisoen by die halfpadmerk, sal dit die ware toets wees van presisie, beplanning en strategie vir spanne om voordeel te trek uit maksimum punte vir die algehele- en klaskampioenskappe.

Groot name in dié sport sal hier hul staal wys wanneer daar op Vrydag 16 Augustus weggetrek word vir ‘n kort Castrol-kwalifiserende wedren, gevolg deur adrenalien-gelaaide wedrenaksie oor ‘n roete van ongeveer 350km wat in die Parys-distrik gery word. Vir Saterdag se INGCO Vaal 400 strek die roete oor ongeveer 425km. Die wedren word ook deur ‘n kwalifiserende rondte voorafgegegaan.

Die spanne en renmotors is tot dusver die seisoen deeglik getoets op stywe en tegniese roetes, en sal die Parys-uitdaging naas tegniese vaardighede ook deelnemers se vermoëns teen hoë spoed toets. Anders as vorige jare, sal beide die Vrydag en Saterdag se wedrenne vanjaar wegspring en eindig by Stonehenge River Lodge aan die oewer van die Vaalrivier net buite Parys waar die renhoofkwartier en dienspark ingerig word.

Dit is hier waar motorsportentoesiaste die unieke geleentheid sal hê om die renmotors van nader te bekyk, en van die top renjaers en navigators te siene te kry. Die ideale gesinsuitstappie waar jy die aksie gratis kan kom geniet.

Vrydag 16 Augustus se Castrol kwalifiserende tydtoets vir die INGCO Parys 400 begin om 07:30 en sal die wegspringposisies vir die eerste wedrenfase bepaal wanneer die voorloper om 09:45 sal wegtrek vir die 175km skof. Spanne stop dan vir ‘n verpligte 30 minute by die dienspark by Stonehenge, voordat hulle wegtrek vir die tweede wedrenfase in die posisies waarin die eerste fase voltooi is.

Die wedren eindig by Stonehenge waar die wenners hul podiumplekke sal inneem.

Saterdag se Castrol kwalifiserende wedren spring weer weg om 07:30 om die wegspringposisies vir die eerste wedrenfase oor ongeveer 214 kilometer te bepaal, en sal die wedren, soos Vrydag na die tweede wedrenfase by Stonehenge eindig vir die podiumseremonie.

Jy kan ook die wedrenne volg op die RallySafe toepassing wat jy gratis kan aflaai op iStore of Google PlayStore, of by die Facebook-skakel https://www.facebook.com/sarallyraidchampionship: of by die Instagram-skakel https://www.instagram.com/sarallyraidchampionship/ J
Jy kan ook op X (Twitter) gaan loer na @SACCS.Auto.

Twee dae met byna 800 kilometer se opwindende wedren-aksie is op Parysenaars se voorstoep en iets wat jy beslis nie kan mis nie. Maak seker jy maak volgende naweek ‘n draai by Stonehenge.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button