Seëls vertel ‘n storie
Die uitstalling word gehou van 29 Oktober tot 1 November in die Sasolburgse Openbare Biblioteek.

Vir baie mag seëls dalk iets wees wat jy nie sommer meer sien nie, maar as die versamelgogga jou gebyt het, raak aanlynveilings en internethandel met seëls amper soos kar koop. So gesels twee Parysenaars, Koos de la Rey en Trevor Harris, wie se seëls vanjaar gesien kan word by die seëluitstalling van die Sasolburgse Filatelie Vereniging. Die uitstalling word gehou van 29 Oktober tot 1 November in die Sasolburgse Openbare Biblioteek.
“Daar was nie ‘n ding wat ons nie as kinders versamel het nie,” vertel Koos – van note tot seëls. Met die jare was daar egter nie veel tyd om hul seëlversamelings uit te brei nie, maar deesdae geniet dié twee vriende die stokperdjie terdeë. “Elke seël vertel ‘n storie,” gesels hulle, en verduidelik dat filatelie oor meer gaan as net die versameling van seëls.
Tema-versamelings is veral baie gewild, en telkens wanneer daar ‘n geskiedkundige gebeurtenis is, word dit met ‘n seël uitgebeeld, vertel hulle.
So het Suid-Afrika na die laaste wêreldbeker rugby-oorwinning seëls uitgegee, nadat daar vir lank nie nuwe seëls gedruk is nie. Trevor spog met indrukwekkende versamelings van Duitse en Franse seëls, terwyl Koos wys na interessante seëls in hul albums wat onder meer skaakstukke uitbeeld, vervoer as tema het, en selfs “ons groen erfenis” uitbeeld. Daar is seëls van die Olimpiese Spele, toe prins Charles as koning gekroon is – en dalk onthou jy nog die seëls wat deur al die Statebondlande uitgereik is met Charles en Diana se troue.
Vir ‘n seël kan jy vandag so min as 10 sent betaal, maar dan is daar ook ‘n Sweedse seël met ‘n drukfout waarvoor daar ‘n jaar en ‘n half gelede meer as 10 miljoen dollar betaal is, vertel hulle.

Glo dit of nie – drukfoute maak ‘n seël meer waardevol, maar daar is verskeie faktore wat die waarde van ‘n seël kan bepaal. Dit sluit in of daar ‘n watermerk op die seël is, die perforasie van die seël en selfs die papierkwaliteit en hoeveelheid van die seël wat gedruk is.
Koos en Trevor se raad vir voornemende seëlversamelaars is om by ‘n klub aan te sluit. Parys het nie ‘n eie klub nie, en is die naaste in Sasolburg, Welkom en Bloemfontein. Jy kry dikwels mense wat hul seëlversamelings verkoop wat jare al onder die stof lê, en dikwels is dit in hierdie versamelings waar jy uitsonderlike seëls raakloop.
Die twee deel ook graag hul kennis en kan mense hulle skakel om navraag te doen oor betroubare webtuistes en aanlyn veilings waar jy seëls kan koop. Hulle kan ook help om die waarde van ‘n seël te bepaal.
‘n Lonende stokperdjie is dit beslis sê hulle, maar jy kies hoeveel jy wil spandeer en wat jy wil versamel.
Trevor se versameling Duitse seëls is byvoorbeeld volgens kataloguswaarde by die R250 000 werd.
Enigeen is welkom by die seëluitstalling, sê hulle – veral skoolgroepe.
By die uitstalling sal lede van die Vereniging ook vrae kan beantwoord en meer inligting gee oor hul eie versamelings.
Vir junior-besoekers wag daar ‘n seëlgeskenk om hul eie versamelings uit te brei.
Vir navrae skakel Koos by 082 638 6947, Trevor by 082 377 8465, J. van Wyk by 082 447 3099 of Leon Jacobson by 083 389 8647.



