Die merkwaardige ‘sakabula’
Sakabula is die Zulu naam vir een van ons voëlspesies wat behoort aan die Wewer (Ploceidae) familie, die Langstertflap/Long-tailed Widowbird (Euplectus pronge). Die grootste van ons flap soorte, die Langstertflap, trek veral die aandag met sy opvallende manier van vlieg, wanneer hy die grasveld patrolleer waar sy wyfies broei. Hierdie swart voël met sy besondere lang stert, wat in vlug baie lomp voorkom, is natuurlik die mannetjie Langstertflap. Soos ons hom nou in die somer sien, is hy geklee in sy somer/broei kleure/kleed. Hy is hoofsaaklik swart met geweldige lang, swaar stertvere, in sommige gevalle tot solank as ‘n half meter.

Sakabula is die Zulu naam vir een van ons voëlspesies wat behoort aan die Wewer (Ploceidae) familie, die Langstertflap/Long-tailed Widowbird (Euplectus pronge).
Die grootste van ons flap soorte, die Langstertflap, trek veral die aandag met sy opvallende manier van vlieg, wanneer hy die grasveld patrolleer waar sy wyfies broei.
Hierdie swart voël met sy besondere lang stert, wat in vlug baie lomp voorkom, is natuurlik die mannetjie Langstertflap. Soos ons hom nou in die somer sien, is hy geklee in sy somer/broei kleure/kleed. Hy is hoofsaaklik swart met geweldige lang, swaar stertvere, in sommige gevalle tot solank as ‘n half meter.
Die mannetjie en die wyfie verskil grootliks in voorkoms en grootte en die voorkoms van die mannetjie verskil ook nog seisoenaal (sien foto). As ons hulle in die winter gaan soek, sal ons dink hulle is weg, maar dan is hulle nog steeds hier, net in ’n ander gewaad. Die wyfie lyk winter en somer dieselfde. Die mannetjie het ook nog ’n kenmerkende rooi kol op elke skouer – al kenmerk, wat hy in die winter behou.
Die Langstertflap kom baie wyd oor Suid-Afrika se sentrale en oostelike hoëveldgebied voor. In die Vredefort Koepel is hulle algemene standvoëls in die grasveldstreek en veral ook in vleilandgebiede. Beweeg jy rond in ons omgewing in die somer, is hulle immer teenwoordig. Die mannetjies met hulle lomp manier van vlieg, word maklik van ons paaie af waargeneem.
As kinders het ons gedink dat ons hulle maklik sal kan vang, want hulle lyk dan of hulle nie kan wegkom nie. Maar in die veld kon die vinnigste van ons nie eers naby kom nie.
Sakabulas kom altyd in swerms voor. Hulle is hoofsaaklik saadvreters en kry hulle kos op die grond, waar hulle ook die insekte wat hulle raakloop sal vreet. Aan die begin van die broeityd sal die mannetjies paringsvlugte uitvoer om soveel as moontlik wyfies se aandag te trek en hulle dan die hof te maak en te paar.
Mannetjies is poligamisties en paar met tot soveel as ses wyfies in een seisoen. In die broeityd oornag die mannetjies gesamentlik in rietbosse, soms ver van die broeiplekke af. Vroeg oggend vlieg hulle dan terug na die broeiterreine waar hulle hul wyfies teen moontlike gevare probeer beskerm.
Die voëls weef hulle nes 5 – 20 cm bokant die grond in digte gras en gebruik lewendige gras om ’n dak oor die nes te vorm. Die nes het ’n groot kant-ingang.
Die raamwerk vir die nes word deur die mannetjie gebou en die wyfie voltooi en rond dit af. Die wyfie lê gewoonlik 3 groenerige gespikkelde eiers. Die kleintjies broei na 14 dae uit, ’n taak wat deur die wyfie alleen verrig word. Die grootmaak van die kleintjies is ook die alleentaak van die wyfie vir ’n verdere 17 dae tot hulle heeltemal onafhanklik is.



