Mylpaal vir parkrun se tydhouer
'n Sprekende bewys dat parkrun vir almal is - of jy deelneem, of deel in die gees van parkrun.

Mylpale is allermins net vir hulle wat gereeld ‘n parkrun roete stap of draf.
Parysenaar Louwtjie Maree kon onlangs spog met sy 25 parkrun mylpaal as vrywilliger.
Parkrunners van die Egweni River Lodge parkrun ken vir Louwtjie, stophorlosie in die hand waar hy gereeld as vrywilliger by die parkrun help. Hoewel hy weens ‘n rugpro- bleem nie self kan deelneem nie, bring hy getrou sy kant om saam met ander vrywilligers seker te maak dat die parkrun elke Saterdag om 08:00 by Egweni River Lodge kan plaasvind, want vrywilligers speel ‘n groot rol in die sukses van enige parkrun.
Louwtjie het in 2012 Parys sy tuiste gemaak, maar dit was eers op 16 April vanjaar dat hy die eerste keer by parkrun betrokke geraak het danksy sy swaer, John Henry, wat as ‘Run Director’ daardie Saterdag moes help, en Louwtjie gevra het om hand by te sit.

Die gogga het gebyt en het Louwtjie sedertdien al selfs ‘n maandlange ‘parkrun’ toer gedoen waar hy van Innibos tot Hartenbos by die onderskeie dorpe waar hy gekom het, op ‘n Saterdagoggend as vrywilliger by die onderskeie parkruns gehelp het. Op sy lysie is al 11 parkruns waar hy as vrywilliger gehelp het.
Die afgelope naweek het hy vir die eerste keer ook die skandering gedoen van deelnemers se kodes wat die parkrun voltooi het.
‘n Sprekende bewys dat parkrun vir almal is – of jy deelneem, of deel in die gees van parkrun. Onthou parkrun is gratis en oop vir enigeen wat wil deelneem. Jy kan die 5km roete stap of draf, en jy is welkom om ook jou honde te bring mits hulle aan ‘n leiband is. Volg die Egweni River Lodge parkrun Facebook-blad vir meer inligting.




