INGCO Parys 400 bring Dakar-styl motorren aksie na die Vrystaat
Die Parys-kampioenskap word as een van die mees veeleisende kampioenskappe van die seisoen beskou.
Die enjins gaan binnekort weer behoorlik dreun in Parys wanneer van die wêreld se beste rally-raid-jaers in dié Vrystaatse dorp bymekaar sal wees vir die openingsronde van die 2026 Suid-Afrikaanse Rally-Raid kampioenskap (SARRC) – die INGCO Parys 400 wat op Vrydag 19 Junie. en Saterdag 20 Junie gehou word.
Die kampioenskapsopeningsnaweek bied bykans 450km se hoë-intensiteit rally-raid-renne oor twee dae, wat mens en masjien op die proef sal stel in een van die mees uitdagende veldren-uitdagings op die nasionale motorsportkalender.
Dit sal die agtste keer wees dat Parys gasheer sal wees vir die kampioenskap, en het deelnemers die terrein al in uiteenlopende toestande aangepak – van droë, stowwerige roetes tot nat en uitdagende weer. Baie onthou steeds die haelstorm wat die eerste byeenkoms in 2019 getref het.
Vanjaar sal deelnemers weer oor twee provinsies jaag. Hoewel die grootste deel van die roete nader aan Parys in die Vrystaat geleë is, sal gedeeltes langs die oewers van die Vaalrivier spanne ook na die Noordwes-provinsie neem.
“Dit is een van die mees veeleisende byeenkomste van die seisoen,” sê SA Rally-Raid se uitvoerende hoof, Archie Rutherford. Hy beskryf dit as Dakar-styl wedrenne waar deelnemers ’n balans moet vind tussen volspoed jaag, meganiese versigtigheid en strategie.
Motorsport-entoesiaste sal verheug wees dat die seisoen uiteindelik aan die gang kon kom ná onvermydelike vertragings wat veroorsaak is deur die uitbreking van bek-en-klouseer in die Noordwes-provinsie, wat gelei het tot die uitstel van die Stella-byeenkoms. Ernstige storms en oorstromings in die Suid-Kaap het ook die uitstel van die Outeniqua 600 tot Augustus genoodsaak.
Volgens wedrendirekteur Evan Hutchison kan deelnemers vir die Parys-byeenkoms ’n roete verwag wat hoëspoed gedeeltes met tegniese uitdagings kombineer.
“Ons het van die beste gedeeltes van verlede jaar se dubbelbyeenkoms geneem en dit saamgevoeg in ’n roete wat ’n bietjie van alles bied,” verduidelik Hutchison.
“Daar is vinnige, vloeiende gedeeltes, tegniese draaie, waterkruisings, modderige stukke en oop grasvelde. Dit is die soort roete wat deelnemers van begin tot einde gefokus hou en behoort uitstekende wedrenne deur die hele naweek te lewer.”
Die wedrenaksie begin op Vrydag 19 Junie met die kwalifiserende wedren wat om 09:30 naby die wedrenhoofkwartier en die Aangewese Dienspark (DSP) by Stonehenge River Lodge sal afskop. Die kwalifiserende uitslae sal die wegspringvolgorde vir Fase Een bepaal, wat om 12:30 begin.
Deelnemers sal eers ’n 14 km-skakelgedeelte via die R59 deur Parys na die Parys-vliegveld aflê, waar die wedrengedeelte begin. Die openingsfase sal oop veld, tegniese gedeeltes, skerp draaie en waterkruisings insluit voordat dit weer by die vliegveld eindig en terugkeer na die DSP.
Saterdag se aksie begin met ’n seremoniële vertrek vanaf Stonehenge River Lodge voordat deelnemers om 08:30 na die beginpunt van Fase Twee, net anderkant die N1-brug, vertrek.
Die 200 km-roete neem spanne deur ’n mengsel van modderige gedeeltes, oop grasvelde en die tipiese Vrystaatse mielieland-terrein. Die roete kronkel in die rigting van die Weiveld-graansilo’s en die Boerevereniging-saal voordat dit die R82 bereik en via Dover-treinstasie terugkeer na die eindpunt naby die N1.
Na ’n verpligte diensbreek van 30 minute by die DSP sal deelnemers dieselfde fase vir ’n tweede keer aanpak, wat die verhoog skep vir ’n intense stryd om die algehele eerbewyse.
“Hierdie fases bied ’n uitstekende kombinasie van vinnige en tegniese uitdagings,” voeg Hutchison by. “Bestuurders en navigators sal deurgaans skerp moet bly, want klein foute kan vinnig duur te staan kom.”
Stonehenge River Lodge sal as Wedrenhoofkwartier en Aangewese Dienspark (DSP) uitstekende toegang vir toeskouers bied en ’n lewendige atmosfeer vir ondersteuners.

Die byeenkoms gee ook ’n welkome toerismehupstoot aan Parys en die omliggende streek, aangesien spanne, beamptes, ondersteuningspanne en toeskouers plaaslike akkommodasie, restaurante en toerisme-aantreklikhede ondersteun.
Of jy daar is vir die stof, drama en hoëspoedwedrenne, of bloot om een van Suid-Afrika se voorste motorsportbyeenkomste te beleef, beloof die INGCO Parys 400 om ’n onvergeetlike openingshoofstuk van die 2026 SA Rally-Raidkampioenskapseisoen te wees.

Volg al die aksie op die RallySafe-toepassing (gratis beskikbaar op die iStore en Google Play), of op Facebook, Instagram en YouTube by South African Rally-Raid Championship.



